Trapklub op Standerton se kermesse lok families
Die klub beoog om dit meer gereeld te doen en almal genooi om saam te kom trap met 'n bergfiets met 'n lig aan.
Standerton Trapklub het op Vrydag, 6 April om 3nm met ‘n 45km “Group Ride” begin wat om 6nm met ‘n 30km “Night Ride” opgevolg is.
Altesaam agt lede het opgedaag met ligte en fietse en die wedren was, volgens die fietsryers, lekker en suksesvol.
Die klub beoog om dit meer gereeld te doen en almal genooi om saam te kom trap op ‘n bergfiets met ‘n lig aan.
Daarbenewens het 22 fietryers op 8 April oor die etensuur by die Lionsklub opgedaag om aan die maandelikse Trap Klub “Criterium” / Kermesse deel te neem.
By dié wedren ry fietsryers om ‘n baan van sowat 2km in ‘n uur vir soveel rondtes as moontlik.
Rondtes word getel om die wenner te bepaal wat aan elkeen die geleentheid gee om voluit te gaan vir ‘n behoorlike oefensessie.
Volgens die klub, is dit ‘n veilige konsep en mense van alle ouderdome kan deelneem sonder om alleen op die pad te wees.
Die meeste rondtes wat gery is, was 13 en die minste ses.
Daar word op deelname gefokus en die fietsryveiligheid word bevorder.
Dié konsep is ‘n wenner onder die kinders en uitputtend vir die ouers wat saam met die “kiddies” ry.
Die Kermesse is die eerste Sondagmiddag van elke maand en die volgende wedren word vir 6 Mei beplan.
Na afloop van die Kermesse is ‘n bring-en-braai gehou en van die deelnemers het lekker saamgekuier om die braairooster by die Lionsklub.
Die klub het mnre. Peter Daniel, Stewart Holliday, Theo Viljoen en me. Caren Viljoen vir al hulle reëlings en werk bedank, asook al die ander wat die dag maak werk het.
Inligting: Standerton Trapklub. Aangepas vir publikasiedoeleindes.



