Delmas se Phoenix Rugbyklub eindig tweede in liga
“Ons het ’n uitstekende fondasie gelê en sal beslis op ons oorwinnings van vanjaar voortbou; dit kan net beter gaan.”
Phoenix Rugbyklub van Delmas moes op 5 Augustus die knie voor Heidelberg buig in die eindstryd van die Valke Rugby Unie se Kestrel-liga.
Die wedstryd was by die Valke Rugby Unie se Barnard Stadion in Kempton Park beklink. Met die blaas van die eindfluitjie was die telling 57 vir Heidelberg teenoor 28 vir Delmas.
“Ons span het hierdie seisoen baie hard gewerk. Dit was maar ’n bitter pil om te sluk, want natuurlik sou ons graag die trofee wou huis toe bring,” het Jandré Senekal, Phoenix se afrigter gesê.
Volgens Senekal is die span tog trots op dit wat hulle die seisoen vermag het.
“Ons kon daarin slaag om ’n halfeindstryd op ons tuisveld te hê en ons het tot in die eindstryd gevorder.”
Senekal het ook gesê dat hulle ’n goeie rugbyseisoen beleef het.
“Daar was die goeie tye, maar ook die hartseer tye.”
Van Phoenix se spelers het ernstige beserings opgedoen waaronder ’n gebreekte kakebeen en een speler het sy arm tydens die halfeindstryd op Sundra gebreek.
Senekal het voorts gesê dat hulle baie uit vanjaar se liga geleer het en dat hulle uitsien na die volgende seisoen.
“Ons het ’n uitstekende fondasie gelê en sal beslis op ons oorwinnings van vanjaar voortbou; dit kan net beter gaan.”
Senekal het ook al hul getroue opreg ondersteuners bedank en hoop om met die volgende seisoen nog meer ondersteuners na hul wedstryde te lok.



