Delmas en omgewing se gemeenskap bedank vrywilligers vir beskerming
Vanaf Dinsdag, 13 Julie het verskeie rolspelers begin om die dorp te patrolleer en is daar ook padblokkades gehou om te verseker dat geen ongewenste elemente die dorp binnekom nie.
Tydens die onlangse vlaag van geweld en stropery wat die land getref het, het verskeie buurtwagte van die Delmas-omgewing, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Delmas Taxi Assosiasie (DTA) hande gevat.
Delmas se gemeenskap het saam die besluit geneem dat dié kwaadstokers en plunderaars nie in Delmas welkom sou wees nie.
’n Vergadering is belê en daar is op ’n samerwerkingsooreenkoms onderleiding van die Delmas Polisie ooreengekom.
Vanaf Dinsdag, 13 Julie het verskeie rolspelers begin om die dorp te patrolleer en is daar ook padblokkades gehou om te verseker dat geen ongewenste elemente die dorp binnekom nie.
Vir die breër gemeenskap, was hierdie onbaatsugtige hulp tydens die onstuimige tye van onskatbare waarde en daarom het die eienaars en personeel van Perfect Water ’n besluit geneem om elke aand vir die vrywilligers van warm eet- en drinkgoed te voorsien.
’n Groep vroue het begin om sop, jaffels, pannekoek en toebroodjies voor te berei. Op hierdie manier kon die vrywilligers ’n ietsie warm kry
om die koue te verdryf en is daar aan buurtwaglede, lede van die DTA, die GPF en ander rolspelers in die sekuriteitsbedryf eetgoed voorsien.
Die eienaar van die plaaslike Pick n Pay, mnr. Celso Dos Santos, het ook sy bedanking teenoor die patrolleerders uitgespreek deur energiedrankies,
toebroodjies, vrugte en koeldrank te verskaf.
“Vrywilligers wat sulke onbaatsugtige hulp aan statutêre rolspelers verleen, veral tydens onstuimige tye soos wat ons twee weke gelede beleef het, is van onskatbare waarde vir ’n gemeenskap in tye van nood. Ek wil net vir elke vrywilliger van die DTA, GPF, buurtwagte van Sundra, Eloff en Delmas baie dankie sê dat hulle hul vrye tyd afgestaan het deur gedurende yskoue nagte patrollies te ry en hulp te verleen by padblokkades,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum in Delmas gesê.
Mnr. Botha het ook sy dank uitgespreek teenoor elkeen van die gemeenskap se vroue wat kos en drinkgoed verskaf het en selfs vir die manne op diens by die padblokkades gaan aflaai het.
“Spesiale dank ook aan Perfect Water vir die beskikbaarstelling van hulle perseel en die bediening van kos asook die bemoediging wat elke aand
mildelik uitgedeel is vir langer as ’n week en ’n half. Ons mense het hande gevat en dit het vrugte afgewerp.”



