Streeknuus

Gesin van Eloff sit in sak en as na vlamme hul huis verwoes

“Daar was nie tyd om daaroor te dink nie. Ek het ingestorm, die baba in my arms opgelig en met hom die brandende huis uitgestorm,” mnr. Ryno van Wyk, ’n lid van AfriForum se Eloff Buurtwag, gesê.

Eers die verswelgende vlamme en toe net rook, roet en ’n hoop rommel, daar waar eens ’n gesin gewoon het.

Die Botha-gesin het met skok en afgryse na die toneel van verwoesting gekyk, ’n plek wat hulle nog etlike ure vantevore ‘ons huis’ genoem het.

Die noodkreet het op Dinsdag, 20 Julie op sosiale media uitgegaan dat daar ’n huis op ’n kleinhoewe by Droogefontein brand.

Volgens mnr. Chris Wessels, familielid wat op dieselfde perseel woonagtig is, het me. Lulu Botha sy huis binnegestorm en gegil dat hul huis brand.

“Ek wou dit eers nie glo nie, maar Lulu was oortuigend en toe ek buite kom, het ek gesien dat dié brand ernstig was,” het mnr. Wessels gesê.

Slegs me. Botha en haar drie-maande oue baba was in die huis ten tye van die brand. Hulp is ontbied en die buurtwagte van Eloff het onmiddellik gereageer. Met hul aankoms op die toneel is daar gou besef dat die Botha-baba in gevaar verkeer het.

“Daar was nie tyd om daaroor te dink nie. Ek het ingestorm, die baba in my arms opgelig en met hom die brandende huis uitgestorm,” mnr. Ryno van Wyk, ’n lid van AfriForum se Eloff Buurtwag, gesê.

Hulp en brandkarre het vanuit alle oorde op die toneel aangekom en die mense het probeer help om die woning te red, maar die vlamme was te veel en het te vinnig versprei en die huis is totaal verwoes.

Me. Botha en die baba is per ambulans na die plaaslike Bernice Samuel Hospitaal in Delmas vervoer waar hulle ondersoek is en vir rookinaseming behandel is.

Met die brandweer se aankoms op die toneel, was die brand reeds onder beheer gebring.

Die vlamme kon geblus word, die Botha’s het met hul lewens vanuit die as weggeloop, maar was gestrand sonder heenkome en ’n bitter koue nag het voorgelê.

Die buurtwagte van Eloff, Sundra en Delmas het om hulp gevra en binne etlike ure was die gesin geholpe met warm komberse, klere en doeke. Op Woensdag, 21 Julie het skenkings steeds ingestroom en is daar selfs ’n splinternuwe bababedjie vir die kleinding geskenk.

“Ons het ook reeds beddens, ’n yskas en ander noodsaaklike items van ons gemeenskap ontvang,” het me. Ansie van Tonder gesê.

Me. Van Tonder, voorsitter van die Droogefontein Brandspan en lid van Eloff se AfriForum Buurtwag, neem die koördinering van die skenkings vanuit die gemeenskap waar en bedank ook elkeen wat so mildelik bygedra het. Volgens haar het skenkings en hulp van sover as Springs en Brakpan gekom.

Die Sundra Bulldogs Buurtwag se voorsitter, mnr. Derek Bester, bekend vir sy omgee en liefde vir sy gemeenskap, het ook sy deel gedoen en daar kon binne 24 uur ’n ruim bedrag geld ingesamel word waarmee ’n Wendyhuis aangekoop kon word.

“Ek wil net vir ons gemeenskap dankie sê vir hulle ruim skenkings. Dit is net weer ’n bewys dat ons mense in tyd van nood kan saamstaan en omgee vir mekaar,” het mnr. Bester gesê.

Teen druktyd het die Botha-gesin steeds by mnr. Wessels tuisgegaan. Volgens me. van Tonder behoort die gesin se huis baie binnekort opgerig te word.

Die oorsaak van die brand kon teen druktyd nog nie bevestig word nie, maar volgens mnr. Wessels was dit vermoedelik ’n elektriese koord wat onderdeur ’n mat gelê was, wat ’n kortsluiting gemaak het.

Die Botha’s spreek ook hulle dankbaarheid uit teenoor elkeen wat gehelp het en steeds help met skenkings en bystand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button