Streeknuus

Delmas Polisie vat koperdiewe vas

Volgens ’n betroubare bron, beloop die skade wat Delmas Colliery weens dié diefstal gely het, sowat R60-miljoen.

Dit blyk dat die Delmas Colliery Myn vir die afgelope twee maande behoorlik onder ’n bende koperdiewe deurgeloop het.

Myngereedskap, kragopwekkers, tungsten karbied-boorpunte (15 600 in totaal), maar veral koperkabels, was skynbaar dié diewe se teiken.

Volgens ’n betroubare bron, beloop die skade wat Delmas Colliery weens dié diefstal gely het, sowat R60-miljoen.

In wat dus beskou word as ’n baie groot sukses was daar altesame 26 vermeende koperdiewe by die Delmas Colliery Myn tydens twee afsonderlike operasies in hegtenis geneem.

Gedurende die eerste operasie op Woensdag, 4 Augustus, is ’n totaal van 14 verdagtes vasgetrek.

’n Opvolg-operasie het vir verdere sukses gesorg toe nog 12 verdagtes op Vrydag, 6 Augustus in hegtenis geneem is.

Volgens kol. Sipho Sithole, bevelvoerder van die Delmaspolisiestasie het hulle inligting ontvang omtrent ’n groep verdagtes wat moontlik by Delmas Colliery Myn koperdiefstal bedrywig is.

Na die flink optrede van die Delmas-polisie is nege mans op heterdaad betrap waarna ’n verdere drie verdagtes tydens die eerste operasie in hegtenis geneem was.

Die polisie het ook tydens die eerste operasie op twee voertuie, ’n blou Citi Golf en ’n grys Toyota Avanza, beslag gelê.

Daar is dié Woensdag ook op 52 rolle koper beslag gelê en ’n verdere 53 rolle is tydens die tweede operasie op Vrydag gekonfiskeer en was daar op ’n derde voertuig, ’n wit Opel Corsabakkie, en ander gesteelde items beslag gelê.

Een van die verdagtes is ook tydens ’n skermutseling met ’n lid van die mynsekuriteit gewond en was teen druktyd nog onder polisiebewaking in die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas.

Luit.-genl. Semakaleng Manamela, provinsiale kommissaris van polisie in Mpumalanga, het die inhegtenisnames verwelkom.

Sy het in ’n mediaverklaring op 6 Augustus, die polisie sowel die sekuriteitspersoneel van die myn geprys vir die moeite wat hulle gedoen het om die positiewe resultate moontlik te maak.

Daar is op 105 rolle gesteelde
koperkabels beslag gelê tydens ’n
uiters suksesvolle polisie-operasie.
(Foto: Verskaf

Volgens kol. Sithole was die Delmas-polisie, Kwamhlanga Publieke Polisieëringsorde (POPS), Middelburg se K9-eenheid en die myn se sekuritetspersoneel by die operasie betrokke.

Die Mpumalanga-LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling, mnr. Vusi Shongwe, het ook die samewerking tussen die polisie en die myn geloof.

“Hierdie vorm van ekonomiese sabotasie het ’n groot impak op privaat maatskappye, maatskappye wat reeds vir baie gesinne in die land vir ’n inkomste sorg,                                          insluitende buitelanders. Daarom moet die polisie hierdie sake deeglik ondersoek sodat die oortreders, ook dié agter tralies, die volle mag van die wet kan beleef,” het mnr. Shongwe gesê.

“Ons moet almal ons samewerking gee sodat hierdie misdade uitgeskakel kan word. Slegs deur dit te doen, sal beleggingsvertroue in ons provinsie en land weer herstel kan word, wat weer sal lei tot broodnodige werkskepping.”

Kapt Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas-polisie het op haar beurt ook haar dank teenoor die sekuriteitspersoneel, en veral die sekuriteitshoof van die Delmas Colliery Myn uitgespreek.

“Hulle het hard gewerk oor ’n baie lang tyd en genoegsame inligting bymekaar gekry ten einde die polisie in staat te stel om hierdie inhegtenisnames te maak,” het kapt. Hartley Streeknuus meegedeel.

Die 26 verdagtes se ouderdomme wissel tussen 25 en 67 jaar en is volgens inligting almal buitelandse burgers.

Hulle sou na verwagting op Dinsdag, 10 Augustus in die Delmas Landdroshof verskyn het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button