Laurette van der Vyver se kunswerkewerke reis oorsee
Haar werk ondersoek die diepte van haar eie spiritualiteit en reflekteer ’n persoonlike soeke na die betekenis van die lewe.
Me. Laurette van der Vyver het die eerste jare van haar lewe in die oop vlaktes van die Suid-Vrystaat bestee.
Terwyl sy opgegroei het in Pretoria, het sy nooit die liefde vir die vryheid van plaaslewe verloor nie.
Ná sy in Kenia getroud is, woon sy vandag op ’n plaas net buite Bapsfontein saam met haar man en twee lewendige dogters.
Aanvanklik het haar besigheid grotendeels in fotografie en grafiese ontwerp spesialiseer.
Sy skilder hoofsaaklik met olie op doek.
Haar werk ondersoek die diepte van haar eie spiritualiteit en reflekteer ’n persoonlike soeke na die betekenis van die lewe. Sy bevraagteken hoe ons innerlike landskap verskillend sou wees as ons in ander omstandighede sou leef.
“Die dokumentasie van die gewone dinge gee vir my ’n sleutel na ’n gevoel van wat mense werd is. Die lewe is ’n delikate verfstreep op die linnedoek waar ons almal tans ’n rol speel in die
geskiedenis wat nou ontvou en die oomblikke wat ons as sulks deel.”
Die vryheid wat haar kunssinnige moeder vir haar gebied het om muurskilderye in haar ouerhuis te maak, is waar me. Van der Vyver se liefde vir kuns ontstaan het.
“My pa se kant van die familie is net so kunstig en musikaal – so ek dink nie kuns sou sommer maklik by my verbyloop nie.” het sy vertel.
Sy skep dikwels werke waar die oop spasies, plaaslewe en natuur van Suid-Afrika gevier word en waarna die moderne mens al meer terug hunker.
Sy put inspirasie uit reise, ou geboue, geskiedenis en die natuur. Dit is vir haar heerlik as mense ’n skildery huis toe vat en kan reflekteer op ’n “landscape of the mind” in hulle eie huise.
Sy bied ook kunsklasse aan vir volwassenes en dit gee haar groot vreugde om te sien hoe ongelooflik mense wat geglo het hulle kan nie ’n stokman teken nie, se talent ontwikkel.
Die skilderye het ook nie noodwendig altyd ’n diep boodskap wat op die doek uitgebeeld word nie.
“Die intrige is juis vir my daarin om die hele landskap te waardeer, om dit te sien, regtig daarin te leef en dit te skilder.”
Me. Van der Vyver gee insig en deel perspektiewe deur haar werk. Om te skilder is nie net vir haar ’n taak om te voltooi nie, maar in die allerdaagse eenvoud vind sy aanklank.

“Ons kan eintlik net die kolletjies van ons lewe terugwerkend konnekteer, daarom is daar ’n verantwoordelikheid op almal van ons en wel in elke nuwe generasie om die geskiedenis, natuur en plekke waar ons bly te omarm. Om dit te bewaar en lewendig te hou vir die kolletjies om ook te konnekteer na toekomstige generasies.”
Uit daardie plek van waardering verf me. Van der Vyver nie net skilderye met haar verfkwas nie, maar sy bring duidelikheid wat in haar kuns ervaar word.
Die reeks van voëltjies was gebore uit die “eenvoudige” voëltjies wat elke dag in haar eie omgewing sigbaar is. Die skildery van die uil getiteld Olof is geverf van ’n beseerde uil wat haar gesin gered het. So ook is daar ’n skildery met die titel Minverva van ’n nonnetjiesuil wat die gesin weer eens gehelp en vrygelaat het.
Die natuur het ’n uitwerking op me. Van der Vyver en het vir haar betekenis, dus skilder sy graag vanuit daardie konneksie.
Haar kunsloopbaan se hoogtepunt was verseker in 2001 toe sy ’n internasionale toekenning ontvang het vir die grafiese ontwerp van ’n leergebinde en handgekerfde houtomslag-boek vir die Mev. Verenigde Nasies Internasionalekompetisie. Dié kompetisie is in Kalifornië gehou.
In 2013 het sy ook vir ’n jaar lank as fotograaf en navorser op die Mandela Opus gewerk. Die finale boek is in Londen gedruk en het 36 kg geweeg.
Sedert haar eerste uitstalling in 1996 het sy aan verskeie groepuitstallings deelgeneem en van haar werke is opgeneem in privaat-versamelings so ver as New York, Atlanta, Duitsland en Dubai.
Tans is van haar werk te sien as deel van ’n uitgesoekte uitstalling by Artbox Gallery and Framing met die titel Searching for Utopia in a YOUniverse.
Die uitstalling het op 7 Augustus geopen en kan tot 31 Augustus besigtig word.



