Op Elandshoek word daar met boeke geboer
Die rede vir die boekversameling is Dom Boer se liefde vir Afrikaans en sy strewe om die taal en sy leesstof te behou en te bewaar.
Mnr. Buks Barnard het jare gelede al die Dom Boer se Boekboerdery gestig en hier word grootdeels met boeke geboer.
Boeke boeke boeke! Boeke net waar jy kyk. Derduisende boeke.
Dit is Dom Boer se Boekboerdery op ‘n hoewe op Elandshoek,‘n ent buite Cullinan.
Dom Boer versamel al baie jare lank boeke.
Hy sê toe hy nog “gelewe” het, moes hy vir sy werk reg deur die land reis en hy het by elke moontlike plek waar hy tweedehandse boeke kon koop, aangedoen en telkens met ‘n bakkievrag boeke teruggekom.
Die rede vir die boekversameling is Dom Boer se liefde vir Afrikaans en sy strewe om die taal en sy leesstof te behou en te bewaar.
Dit is hoekom die grootste deel van die Boekboerdery, die Langenhoven-saal, Afrikaanse storieboeke van alle soorte bevat.
Die saal vir Engelse boeke, die Herman Charles Bosman-saal, is heelwat kleiner, maar bevat ook ‘n keurige versameling waardevolle boeke.
Boeke uit die Langenhoven-saal en die Herman Charles Bosman-saal word uitgeleen, maar nie vakkundige boeke nie.
Hierdie kategorie bevat boeke oor elke onderwerp onder die son: geskiedenis, aardrykskunde, plekbeskrywings, medies, landbou, tuinbou, politiek, lewensbeskrywings, godsdiens, digkuns, noem maar op.
Te wyte aan ‘n gebrek aan ruimte word baie van die vakkundige boeke nie vertoon nie.
Die Boekboerdery sluit ook ‘n diskoteek met honderde plate en musiekpierings in – alles mooi, goeie, beskaafde musiek van die soort wat nooit sal uitsterf nie.
Die laaste deel van Dom Boer se Boekboerdery is die gesellige Doc Immelman-stoepie, waar ‘n mens heerlik onder die grasdak kan sit en lees of kuier.
Dit alles staan onder die bekwame en vriendelike beheer van mnr. Koos en me, Charlotte Coertze, wat self ywerige lesers en boekliefhebbers is. Dom Boer self hou hom op die agtergrond want, hy het vertel hy kom baie beter oor as hy nie gesien of gehoor kan word nie.
“Buitendien gaan dit oor die boeke.”
Oor die naam, Dom Boer, het hy laat hoor: “Dit is Dom Boer se vaste beleid om nooit ‘n grap, woordspeling of skrywersnaam te verduidelik nie. ‘n Mens snap dit of jy snap dit nie.”



