Streeknuus

Wilde jaagtog op snelweg ná dief motor by polisiestasie steel

Die verdagte het hierna kapt. Phori se motor op die N12 tussen die R42- en R50-afritte tot stilstand gebring. Hy was in sy regter bobeen gewond.

‘n Arrogante kardief het ‘n luierende voertuig vanuit die Delmas-polisie se gronde gesteel, maar het hom skynbaar heeltemal misreken met wat sou volg.

Kapt. Theresa Phori van die Delmas-polisie het op 9 Augustus omstreeks 06:00 haar motor aangeskakel om die enjin te laat opwarm.

Volgens kapt. Phori was haar motor, ‘n silwer Chev Aveo, aan die agterkant van die polisie se perseel geparkeer.

Sy was, na nagskof, op die punt om van diens af te gaan en het vinnig weer in die gebou teruggegaan om haar handsak te gaan haal.

Intussen het ‘n ander polisielid van buite die kantoor ingestap en was skynbaar baie verras om vir kapt. Phori te sien,omdat hy oomblikke vantevore gesien het hoe haar voertuig die perseel
verlaat het.

Kapt. Phori en haar kollega het uitgehardloop, net om tot die besef te kom dat haar motor gesteel is.

Volgens kapt. Carla Hartley, segsman van die Delmas-polisie, het dinge hierna baie vinnig gebeur.

Twee polisiebeamptes het in ‘n polisievoertuig gespring en die verdagte agterna gesit.

Kapt. Hartley het verder gesê dat die verdagte op die R555 in die rigting van Ogies beweeg het. Hy (die verdagte) het toe die Argent-afrit na die N12 geneem en verdere ondersteuning was
vanaf die polisiestasie ontbied.

Twee ander polisielede was glo reeds besig met patrollie op die R42 in die rigting van die N12 en het onmiddellik op die roep gereageer.

“Kort voor lank was daar ‘n hoëspoed-jaagtog waartydens die verdagte ‘n U-draai op die N12 gemaak het. Hy was steeds op die N12, maar het toe in die rigting van Johannesburg gejaag,” het kapt. Hartley gesê.

“Na verskeie pogings om die verdagte te stop, was twee skote op die bestuurdersdeur van kapt. Phori se silwer Chev Aveo afgevuur.”

Die verdagte het hierna kapt. Phori se motor op die N12 tussen die R42- en R50-afritte tot stilstand gebring. Hy was in sy regter bobeen gewond.

Die 35-jarige man was teen druktyd steeds onder polisiebewaking in die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas waar hy behandeling vir ‘n skietwond ontvang.

‘n Hofdatum was nog nie vasgestel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button