Delmas Rolbalklub se spelers ding mee om Presidentstrofee
Peres, wat ook as president van dié klub dien, het as oorwinnaar uit die stryd getree.
So met die eerste blaas van die Augustus-winde in Delmas het spelers op Vrouedag by die Delmas Rolbalklub om die Presidentstrofee meegeding.
Die wedstryd het op Maandag, 9 Augustus om 09:00 afgeskop en die manne en vroue was oorgehaal vir ’n lekker wedstryd.
Hoewel die kompetisie straf was en daar op ernstige noot balle gerol was, was die gees tussen die spelers gesellig.
Die 10 deelnemers het in twee seksies deelgeneem. Die wenners uit elke seksie het in die eindstryd teen mekaar te staan gekom.
Karin Peres en Gerhard van Heerden het uiteindelik na die eindstryd deurgedring en mekaar behoorlik die stryd aangesê.
Peres, wat ook as president van dié klub dien, het as oorwinnaar uit die stryd getree en hou nou die titel van Presidentstrofee-wenner van die Delmas Rolbalklub vir 2021.
Sy het elke speler wat vir die kompetisie ingeskryf het en hulle tyd opgeoffer het om deel te neem, bedank.
Sy het ook vir mnr. Piet en me. Truia Vorster vir die vleis wat hulle geskenk het, bedank.
“Baie dankie ook aan Gerhard van Heerden vir die onderhoud van die baan. Die klub se lede waardeer dit opreg,” het Peres na afloop van die wedstryd gesê.
Spelers wat belangstel om by die Delmas Rolbalklub aan te sluit, word aangemoedig om me. Peres vir meer inligting te skakel by 082 496 3782.

Presidentstrofee op Maandag, 9 Augustus, deel.

(wenner).



