Streeknuus

Nóg ’n bejaarde en haar huiswerker op Rietkol aangeval

“Die tannie se gesig was pimpel en pers geslaan.”

Nóg ’n bejaarde vrou en haar huiswerker is op Rietkol aangeval en verniel.

Me. Martha Etrisia Blom (84), of beter bekend as tannie Mattie, is op Donderdag, 12 Augustus op ’n kleinhoewe, of kleinplasie soos dit in die distrik bekend staan, oorrompel.

Kapt Linky Olckers, bevelvoerder van Sundra Polisiestasie, het in ’n mediaverklaring gesê die voorval het omstreeks 08:20 plaasgevind. Volgens kapt Olckers, was me. Blom besig om haar katte op haar agterstoep te voer toe sy skielik haar huiswerker sien weghardloop het.

’n Man met ’n balaklawa het hierna so vinnig op haar afgestorm dat sy haar balans verloor en geval het.

Volgens kapt. Olckers, het die aanvaller hierna vir me. Blom met ou lappe toegegooi.

’n Stoeiery het glo ontstaan en in die proses het me. Blom talle kneusplekke op haar gesig, hande en ribbes opgedoen.

’n Tweede aanvaller, wat ’n mes by hom gehad het, het intussen die huiswerker voorgekeer en met haar kamerjas se gordel vasgemaak. Albei vroue was hierna die huis ingesleep.

Die twee aanvallers het kontant en vuurwapens geëis.

Hulle (die aanvallers) kon egter nie enige kontant of vuurwapens vind nie en het ’n skootrekenaar, drie selfone, ’n verfbalgeweer, drank en ’n silwer kissie uit die huis gesteel.

Die motorsleutels was ook geneem, maar volgens mnr. Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, kon die mans nie daarin slaag om met die motor te vlug nie.

“Al die goedere was egter reeds in die voertuig gelaai,” het mnr. Bester gesê.

Volgens mnr. Bester, was me. Blom in besit van ’n Sundra Bulldogs Buurtwagradio, maar dié was glo deur die aanvallers teen die grond gegooi waarna die battery uitgeval het.

Me. Blom kon egter, nadat die aanvallers van die toneel verdwyn het, daarin slaag om die battery weer in die radio te plaas en hulp te ontbied.

Met die Bulldogs se aankoms op die toneel etlike ure na die aanval, was albei vroue nog vasgebind, maar daar was geen teken van die aanvallers nie.

“Die tannie se gesig was pimpel en pers geslaan,” het mnr. Bester Streeknuus meegedeel.

Volgens inligting het die aanvallers met slegs drie selfone gevlug.

Die gemeenskap van Rietkol en Sundra is verlede jaar deur twee plaasmoorde en ’n aanval op bejaardes in die omgewing geruk.

Me. Chante Kershaw (44) is op 30 September verlede jaar op ’n kleinhoewe op Rietkol vermoor.

Drie mense is in hegtenis geneem. Hul verhoor begin op 4 Oktober. Hulle is steeds in aanhouding nadat hul borgaansoeke onsuksesvol was.

Daar was ook die wrede moord in Junie verlede jaar op mnr. Albert Küsel (63), ook ten tye van sy dood ’n inwoner op ’n kleinhoewe op Sundra.

Nog ’n onlangse aanval was dié van mnr. Sampie en me. Erika Müller op hul kleinhoewe op Sundra gedurende September verlede jaar waartydens een verdagte doodgeskiet en twee in hegtenis geneem was.

Teen druktyd was niemand nog in verband met die aanval op me. Blom in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button