Sukses vir polisie en buurtwagte nadat gekaapte vragmotor teruggevind is
Alle partye het vinnig gereageer en alle paaie is gevolglik geblok en is daar na die vragmotor gesoek.
Danksy die samewerking van die Delmas-polisie, AfriForum se Delmas- en Eloff-buurtwagte, die Botleng-teenkapingseenheid en ’n sekuriteitsmaatskappy kon ’n gekaapte vragmotor teruggevind word.
Nuus het Saterdagaand, 14 Augustus vinnig tussen buurtwagte versprei dat ’n vragmotor op die Devon-pad moontlik gekaap is.
Die eienaar van die vragmotor het bevestig dat die bestuurder ‘vreemd’ optree wanneer hy op sy selfoon met hom probeer kommunikeer het en hy het vermoed dat daar nog ’n persoon saam met die bestuurder in die kajuit kon wees.
Kort voor lank het die satelliet-opsporingsein weggeraak en kon daar bevestig word dat die voertuig wel gekaap was.
Die laaste ligging van die vragmotor was op die Devon-pad, maar die rigting waarin dit sou beweeg, was onseker.
Alle partye het vinnig gereageer en alle paaie is gevolglik geblok en is daar na die vragmotor gesoek.
Die voertuig is op die Devon-pad gevind, maar die vragwa was egter reeds afgehaak en was daar vermoedelik ’n ander perd op pad om die vrag te haak.
Die bestuurder was skoonveld.
“Ek het gery om na die tweede vragmotor ter sprake te gaan soek toe daar skielik ’n man met sy selfoon in my rigting geflits het. Ek het gestop en die man het my meegedeel dat hy die bestuurder van die gekaapte vragmotor was. Hy was ongedeerd,” het mnr. Jaun Herholdt, ondervoorsitter van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag, Streeknuus meegedeel.
“Die bestuurder het vir my vertel dat hy deur drie mans in ’n blou VW Passat gekaap was.”
Mnr. Herholdt het almal laat weet om op die uitkyk vir die blou VW Passat te wees, maar die voertuig kon nie gevind word nie.
“Danksy die uitstekende samewerking tussen die Delmas-polisie, AAA Sekuriteit, Botleng se teenkapingseenheid en die buurtwagte van Eloff en Delmas is ’n vragmotor met sy vrag teruggevind,” het mnr. Herholdt gesê.



