Gemeenskap gee Botha-gesin van Eloff ’n nuwe tuiste
Skenkings het steeds ingestroom en op Saterdag, 7 Augustus is die sleutels van die Wendyhuis aan die gesin oorhandig.
’n Gesin van vier is hervestig en spog met ’n splinternuwe dak oor hul koppe nadat hul huis in Julie afgebrand het.
Streeknuus het op 30 Julie oor die Botha-gesin van vier wie se huis op ’n kleinhoewe by Droogefontein deur verswelgende vlamme vernietig is, berig.
Die oorsaak van die brand was nie bevestig nie, maar volgens ’n familielid het dit geblyk dat die brand weens ’n elektriese kortsluiting ontstaan het.
Die gesin het ongedeerd daarvan afgekom, maar was sonder heenkome en met slegs die klere aan hul lywe gelaat.

Die buurtwagte van Delmas en omgewing het ingespring en die gesin was binne etlike ure geholpe met klere, kos en babadoeke vir die twee Botha-babas, Dominique (2) en Kobus (vier maande).
Familielede het tydelike verblyf voorsien, maar dit was egter nie ’n volhoubare situasie nie.
Mnr. Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag het getrou aan sy karakter, binne 24 uur genoeg geld ingesamel om vir die Botha’s ’n Wendyhuis te kon aankoop.
Skenkings vanuit die gemeenskap het steeds ingestroom en op Saterdag, 7 Augustus is die sleutels van die Wendyhuis aan die Botha-gesin oorhandig.
Me. Ansie van Tonder het die skenkings gekoördineer en het geen tyd of moeite ontsien om die huis vir die gesin in te rig nie.
Alleen kon sy dit egter nie doen nie en het sy die AfriForum Eloff Buurtwag, die Droogefontein-brandspan, Eloff Reaksie, die Sundra Bulldogs Buurtwag, die AfriForum Delmas Valke Buurtwag, Randpro Makelaars in Springs en die voorsitter van die Springs GPF, mnr. Barend van Heerden, bedank.
“Ek moet egter ook vir elke individu vanuit die gemeenskappe van Delmas, Eloff en Sundra baie dankie sê vir al die skenkings en hulp,” het me. Van Tonder gesê.
“Ek wil ook net vir my dogter, Vallerie van Tonder, dankie sê vir haar hulp en bystand.”
Mnr. Bester het elke lid van die gemeenskap wat skouer aan die wiel gesit het om die Botha’s weer op die been te help, bedank.
Hy het egter me. Helmien Williamson van die Sundra Bulldogs en mnr. Kobus Visser van die Eloff Taktiese Groep uitgesonder.
“Elkeen wat betrokke was by die hervestiging van die Botha-gesin het dit eens dat die Delmas-gemeenskap kan saamstaan in tye van nood, kan help, kan gee, maar ook daad by woord kan voeg.”
“Ek wil namens ons gesin ons opregte dank uitspreek teenoor almal wat tydens die brand gehelp het, vir al die skenkings en ook vir ons nuwe huis,” het me. Lulu Botha gesê.



