Streeknuus

Trompop-botsing op R555 laat talle beseer

Dié ongeluk is blykbaar vooraf geloop deur ’n voorval wat voor ’n bekende kuierplek in Eloff plaasgevind het.

Wrakstukke het oor die pad gesaai gelê ná ’n trompop-botsing op die R555 tussen Delmas en Eloff op Saterdag, 21 Augustus.

Vyf mense is in die ongeluk beseer, waarvan vier per ambulans na ’n hospitaal afgevoer was.

’n Toyota Corolla en ’n ligte afleweringsvoertuig van die Nthabi Bestuurskool het omstreeks 20:30 reg van voor gebots.

Dié ongeluk is blykbaar vooraf geloop deur ’n voorval wat voor ’n bekende kuierplek in Eloff plaasgevind het.

Volgens me. Heila Coetzee van die AfriForum Eloff Buurtwag het etlike buurtwag-lede voor die kuierplek wag gehou om te verseker dat besoekers die perseel, soos wat die huidige aangepaste vlak drie van inperking vereis, veilig om 21:00 verlaat.

Me. Coetzee het vertel dat ’n silwer Ford Bantam-bakkie daar gestop het om passasiers af te laai waarna ’n groen Toyota Corolla goedsmoeds teen die bakkie gebots het.

Die bestuurder van die Ford Bantam het toe sy ligte vir die bestuurder van die Toyota Corolla geflits in ’n poging om hom daarop attent te maak dat hy sopas teen sy voertuig gebots het.

Die Ford Bantam-bakkie was volgens inligting op die R555 deur die groen Toyota Corolla agternagesit.  In ’n poging om glo by die bakkie verby te gaan, het dit reg van voor teen die voertuig van Nthabi Bestuurskool gebots.

Een van vier beseerdes word in die ambulans gelaai na die trompop-botsing op die R555.

Die Toyota Corolla is in die ongeluk verwoes en dele van die voertuig het aan die teenoorgestelde kant van die pad te lande gekom.

Die beseerdes is deur die Eloff Buurtwag se mediese span op die toneel behandel terwyl daar op die ambulans gewag was.

Die drie insittendes van die Toyota Corolla was na die Bernice Samuel Hospitaal in Delmas afgevoer. ’n Tweede ambulans is na die toneel ontbied en die bestuurder van die bestuurskool se voertuig is ook na die hospitaal afgevoer.

’n Vyfde persoon was lig beseer en het verkies om nie van ’n ambulans gebruik te maak nie.

Die pad moes vir verkeer gesluit word terwyl die wrakke verwyder is en die brandweer van Delmas die padoppervlak beveilig het.

Lede van beide die Eloff- en Delmas AfriForum Buurtwagte het die verkeer herlei en beheer. Die R555 was om 22:00 weer vir verkeer oopgestel.

Die oorsaak van die ongeluk vorm deel van ’n polisie ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button