Delmas se asgate behaal slegs 38%
Die oudit by die Delmas-vullisterrein word sedert 2015 gedoen en het nog geen jaar sedertdien aan die minimum vereistes voldoen nie.
AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.
Slegs een uit 21 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen.
Die jaarlikse vullisterrein oudit word deur middel van ’n vraelys gedoen.
Die vraelys is opgestel om vas te stel of ’n vullisterrein aan die minimum vereistes voldoen soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur; Vullis 59 van 2008, voldoen.
Om die oudit te slaag moet ’n terrein aan minstens 80% van die minimum vereistes voldoen.
Die Delmas-vullisterrein het tydens die 2021-vullisterreinoudit weer eens nie aan die minimum vereistes voldoen nie en behaal slegs 38%.
Die oudit by die Delmas-vullisterrein word sedert 2015 gedoen en het nog geen jaar sedertdien aan die minimum vereistes voldoen nie.
Volgens mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, is die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand.
“Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die tekort aan oorsigfunksies vanaf die staat om munisipale amptenare verantwoordelik te hou vir die verval van hierdie terreine.”
Mnr. Bekker het verder gesê dat die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine.
Daar is ook geen onderhoudsplan vir masjinerie nie en werknemers wat gekontak is, het getuig dat masjiene vir maande stukkend staan.
Verder is daar ook in sommige gevalle geen deeglike sekuriteit wat die terrein beveilig nie en herwinners se toegang na die terrein word vergemaklik.
Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.
AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, en haar span vergader.
Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring.
AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te spreek en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk.
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.



