Nkangala-burgemeester en agt ander vas vir beweerde bedrog
Volgens kapt. Sekgotodi, is die munisipaliteit in die proses uit sowat R215 730 bedrieg.
Die uitvoerende burgemeester van die Nkangala Distriksmunisipaliteit en agt ander medebeskuldigdes het op Maandag, 23 Augustus in die landdroshof op Middelburg verskyn.
Dit volg ná die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad die groep op dieselfde dag vir beweerde bedrog in hegtenis geneem het.
Die Nkangala Distriksmunisipaliteit is ’n kategorie C-munisipaliteit met die hoofkantoor in Middelburg.
Dié distrik bestaan uit die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit wat Delmas, Sundra en Eloff insluit. Ander munisipaliteite sluit in Emalahleni, Steve Tshwete, Emakhazeni, Thembisile Hani en Dr. JS Moroka.
Volgens ’n mediaverklaring soos uitgereik deur kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder vir die Valke, word daar beweer dat die burgemeester, me. Thembi Masilela, in Augustus 2019 met haar medebeskuldigdes saamgesweer het om te verseker dat dokumente op ’n bedrieglike wyse verwerk word vir dienste wat nooit gelewer was nie.
Volgens kapt. Sekgotodi, is die munisipaliteit in die proses uit sowat R215 730 bedrieg.
Die medebeskuldigdes is mnr. Gigimani Swartboy Sindane (59), die sekretaris van die tradisionele raad van Ndzundaza Mabhoko, me. Tebogo Nkamide Matiwane (50), die bestuurder van maatskaplike ontwikkeling in die Nkangala-distriksmunisipaliteit en me. Thembi Ndlovu (50) koördineerder van maatskaplike dienste.
Ander beskuldigdes sluit in mnr. Given Sipho Jele (33) van Somziloyi Business Enterprise, mnr. Simon Prince Musiza (33) van Zenzazona Edms Bpk, mnr. Vincent Jabu Sibiya (39) van Megaworks Trading Enterprise, mnr. Elvis Sifiso Ntuli (36) van Ngibongaimpilo Edms Bpk en mnr. Thabo Wiseman Ntuli van Ngezabanqobi Supply Trading and Enterprises.
Die beskuldigdes is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat en staan tereg op aanklagte van diefstal, vervalsing en die oortreding van die Wet op Bestuur van Openbare Finansies.
Die saak teen die agt beskuldigdes is uitgestel tot 10 September.











