Streeknuus

Delmas se VLU-vroue weer saam

’n Hele klomp belangrike punte is tydens die vergadering aangespreek, onder andere die uitstel van 21 September se vergadering, omdat die kongresdatum vir 21 tot 22 September bevestig is.

Weens die Covid-19-pandemie en strenger inperkings, kon die vroue van Delmas se Vroue Landbou Unie (VLU) vir ’n geruime tyd nie in lewende lywe saam kuier nie.

Op Dinsdag, 17 Augustus het die vroue na ’n lang droogte egter weer van aangesig tot aangesig in die saal van die Hervormde Kerk in Delmas gekuier.

“Glo my, daar was sommer baie gesels,” het me. Carine Swart, skakelbeampte van die Delmas VLU, gesê.

Onder lief en leed was daar dankbaarheid uitgespreek oor elkeen van die lede wat in goeie gesondheid verkeer.

“Dié wat wel Covid-19 gehad het, het herstel en kon die oggend saam geniet.”

Volgens me. Swart, het van die lede wat wel siek was en herstel het, die kans gebruik om die ander lede aan te spoor om vir hul inentings te gaan.

’n Hele klomp belangrike punte is tydens die vergadering aangespreek, onder andere die uitstel van 21 September se vergadering, omdat die kongresdatum vir 21 tot 22 September bevestig is.

Delmas VLU se verteenwoordigers wat by die kongres sal wees, is die voorsitter, me. Marié Terblanché asook me. Magriet Swart en me. Belinda Duvenhage. Weens die kongres wat in
September plaasvind, was die datum van die miniskou ook na Oktober verskuif.

Die herorganisasievergadering word ook vir Oktober beplan en daardie lekker jaarafsluitinguitstappie word vir November beplan.

Pragtige kombersies was deur die vroue gemaak en daar word nou beplan om hierdie kombersies as deel van barmhartigheid onder die bejaardes van Ons Eie Ouetehuis te versprei.

Na afloop van dié bedrywige vergadering het die vroue oudergewoonte koffie en eetgoed geniet.

“Ons het hierna ’n baie interessante inligtingsessie oor ‘Goudwerk’ en ‘Uitstaan Borduurwerk’, beter bekend as ‘Stumpwork’ gehad,” het me. Swart verder gesê.

As deel van die Delmas VLU se beplanning, het me. Terblanché patrone en uitgesnyde viltboekies aan die vroue voorsien.

“Daar word beplan om hierdie boekies as deel van die Delmas-tak se geskenkpakkie op volgende jaar se konferensie uit te gee,” het me. Swart bygevoeg.

Me. Jeanette Scheepers het hier die voortou geneem en die vroue touwys gemaak oor interessante idees en borduurvoorstelle ten einde elke viltboekie ekstra spesiaal te maak.

Die oggend se verrigtinge was met gebed afgesluit.

Me. Marié Terblanché, die gasvrou en voorsitter van die Delmas-VLU bedien heerlike eetgoed tydens die vergadering. (Foto: Verskaf)
’n Pragtige voorbeeld van ‘Uitstaan Borduurwerk’ soos geskep deur die VLU van Delmas. (Foto: Verskaf)
Me. Marié Terblanché en me. Belinda Duvenhage word touwys gemaak oor die maak van viltboekies. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button