Streeknuus

Oud-skoolhoof van Eloff is verstom oor mooi gebaar

“Dit is nou seker nie baie geld nie, maar tog is dit ’n fortuin.”

Dit is meestal moeilike tye waarin die land en sy mense hul begeef, waar misdaad hooggety vier en mense al te dikwels bymekaar verby leef.

Juis daarom het ’n baie mooi gebaar vanuit die gemeenskap van Delmas ’n oud-skoolhoof verstom gelaat.

Dié verrassing rondom eerlikheid en omgee het oud-skoolhoof van Laerskool Eloff, mnr. André Gildenhuys, eerstehands beleef.

Volgens mnr. Gildenhuys het hy die Willowbrooke Square Winkelsentrum op Maandag, 16 Augustus besoek waar hy ’n paar inkopies moes gaan doen het.

“Ek was klaar met my inkopies en was reeds weer op pad na Eloff toe ek ’n oproep ontvang het. Dit was die bestuurder van Crazy Store. Die vrou het my meegedeel dat ek kontant in die winkel laat val het en dat ek dit by haar in die winkel kon kom afhaal,” het mnr. Gildenhuys vertel.

Volgens mnr. Gildenhuys het hy toe maar omgedraai en so waar, daar was sy R100 wat hy onbewustelik laat val het.

“Dit is nou seker nie baie geld nie, maar tog is dit ’n fortuin.”

Wat die storie van omgee vanuit die gemeenskap egter so spesiaal maak, is die verloop tussen die tyd wat mnr. Gildenhuys sy R100 laat val het tot en met dit weer in sy hand beland het.

Me. Charlotte Claassen was in die winkel besig om inkopies te doen.

“Ek was daar om ballonne te koop. ‘n Kassiere het na my aangestap gekom en ’n R100-noot op die vloer by die kasregister sien lê. Sy het aan my genoem dat die geld net aan die kliënt wat kort
tevore uit die winkel gestap het kon behoort, en my toe gevra of ek hom nie dalk ken nie,” het me. Claassen gesê.

Volgens me. Claassen het sy geweet dat dit die afgetrede skoolhoof van Laerskool Eloff was, maar sy het nie oor sy kontaknommer beskik het nie.

“Skoolhoofde ken mekaar mos maar almal en toe skakel ek vir mnr. Johan de Beer, hoof van Laerskool Delmas. Mnr. De Beer het aan my mnr. Gildenhuys se nommer verskaf en ek het dit weer op my beurt vir die bestuurder van Crazy Store gegee.”

Die bestuurder, me. Thandiwe Ndhlovu het mnr. Gildenhuys geskakel en so was die R100-noot aan sy regmatige eienaar terugbesorg.

“Ek kon byna nie glo dat die personeel van Crazy Store soveel moeite sou doen vir ’n enkele R100 nie. Ek dink dit is uitstekende diens en omgee,” het me. Claassen bygevoeg.

Me. Ndhlovu het gesê dat kliëntediens vir haar en haar twee winkelassistente, me. Nontobeko Nkwana en me. Andiswa Ntozini baie belangrik is.

“Dit is die klein gebaartjies wat saak maak en ons kliënte laat terugkeer na ons winkel.”

Mnr. Gildenhuys het die bestuurder van Crazy Store vir haar moeite om sy geld aan hom terug te besorg, bedank.

“Ook aan die vrou, Charlotte, heeltemal onbekend aan my, vir haar omgee en moeite,” het mnr. Gildenhuys gesê.

Op ’n vraag aan mnr. Gildenhuys of hy dié R100 sou raam vir ’n mooi herinnering, was sy antwoord: “Nee, toe moes ek maar vir elk van die vroue ’n sjokolade koop om dankie te sê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button