Streeknuus

Wees Bella en haar babas is nou by Delmas Diereskuiling

“Moenie net ’n troeteldier ten duurste gaan aankoop nie, besoek gerus eers die Delmas Diereskuiling, want daar is diere sonder ’n stem wat smeek om ’n permanente huis en liefde.”

Bella-hond was ook eens iemand se geliefde troeteldier, maar was onlangs ook by dieDemas Diereskuiling in ’n kartonboks afgelewer.

Dit is nie dat Bella se eienaar haar nie meer wou hê nie. Sy het daar beland want haar eienaar is weens Covid-19 oorlede. Bella was boonop dragtig en het geboorte gegee aan vyf nuwe honde-lewentjies.

“Moenie net ’n troeteldier ten duurste gaan aankoop nie, besoek gerus eers die Delmas Diereskuiling, want daar is diere sonder ’n stem wat smeek om ’n permanente huis en liefde.”

So vra die Delmas Diereskuiling se maen dogterspan, me. Jorinda en me. Jolandie Verwey.

Soos Streeknuus voorheen berig het, staan die skuiling voor reuse uitdagings. Hierdie twee vroue se onbaatsugtige diens aan én omgee vir diere is vir die meeste inwoners van die omgewing bekend. Geen dier word ooit weggewys nie.

Bella soek ’n huis nadat haar eienaar weens Covid-19 dood is.

“Die diere word in baie gevalle in haglike toestande by ons afgegee. Soms deur eienaars wat nie meer na hul troeteldiere kan omsien nie, maar ander kere word beseerde diere en mishandelde diere ook net hier by ons afgegee. Sommige word eenvoudig net voor die hek by die perseel neergesit,” het die twee vroue Streeknuus meegedeel.

“Ons is besig om ’n onmoontlike stryd te stry en dit word al hoe moeiliker om ons deure oop te hou weens stygende kostes en die toenemende aantal diere wat ons moet versorg,” het die vroue gesê.

Die Diereskuiling reik weer uit na die gemeenskap en vra om dringende hulp, hetsy in die vorm van dierekos, grasbale, komberse, ou hondehokke of ’n klein bedraggie kontant.

Die Verwey-vroue het ook ’n insiatief waarin ’n spesifieke dier geborg kan word teen ’n maandelikse bedrag van eie keuse.

“Diere soos Bella het nie ’n stem nie, maar haar oë smeek namens haar vyf babas en die skuiling smeek om hulp namens Bella en baie ander soos sy.”

As jy graag ’n bydrae wil maak tot die daaglikse versorging en byna onmoontlike uitdaging wat die Verwey-vroue moet deurstaan, besoek gerus hulle Facebook-blad (Delmas Animal Shelter) vir meer inligting of skakel die skuiling by 060 613 1048

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button