Oud-Delmasser se lyk in veld gevind
Vir die inwoners van Delmas het die nuus van me Iris Potgieter as ’n groot skok gekom, want kort vantevore was me. Potgieter nog by FNB in die Willowbrooke Square winkelsentrum in Delmas werksaam

Me. Iris Potgieter (66) se liggaam is op Woensdag, 25 Augustus in ’n oop stuk veld naby Dewetsdorp gevind.
Tydens haar dood was me. Potgieter ’n inwoner van Dewetsdorp in die Vrystaat, sowat 68 kilometer suidoos van Bloemfontein, maar vir die inwoners van Delmas het die nuus as ’n groot skok gekom, want kort vantevore was me. Potgieter nog by FNB in die Willowbrooke Square winkelsentrum op Delmas werksaam.
Sy het onlangs op pensioen gegaan en het haar op Dewetsdorp gaan vestig. Volgens inligting het me. Potgieter ten tye van haar dood aan Parkinson se siekte, sowel as diabetes gely.
Na wat verneem word, het sy met haar rooi Citi Golf na die Riverside informele woongebied buite Dewetsdorp gegaan waar sy ’n televisiestel sou gaan aflewer het.
Sy was glo bekend daarvoor dat sy mense met die vervoer van hul goedere bygestaan het.
In eie geledere was sy bekend as ‘n ‘barmhartige Samaritaan met ’n hart van goud wat baie graag ander mense wou help’.
Sy was glo laaste lewend by haar huis in Carollstraat gesien.
Ooggetuies het later dieselfde dag gesien hoedat die rooi Golf gestop het, iets afgelaai het en toe weer weggery het.
Die polisie was ontbied en me. Potgieter se liggaam is gevind.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Motantsi Makhele, was me. Potgieter met ’n skerp voorwerp gesteek.
Hierna het ’n groot soektog na die rooi Golf begin en foto’s was wyd op sosiale media versprei.
Teen omstreeks 16:00 het positiewe inligting deurgekom nadat die Golf op kamera vasgevang was waar dit brandstof by ’n vulstasie ingegooi het.
By verdere ondersoek is die motor op Vrydag, 27 Augustus in die omgewing van Bloemfontein opgespoor.
Drie mense tussen die ouderdomme van 19 en 26 jaar is in hegtenis geneem.
Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is glo ’n 25-jarige vrou.
Die drie sou op Maandag, 31 Augustus, in die hof verskyn op aanklagte van moord, motorkaping en die besit van ’n gesteelde voertuig.
Teen druktyd kon geen verdere inligting omtrent die drie verdagtes se hofverskyning verkry word nie.
Volgens ’n betroubare bron, is twee van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, ’n werker van me. Potgieter en dié se vriend.
Geen verdere inligting rondom die wrede dood van me. Potgieter was egter nog bekend nie.
’n Roudiens vir me. Potgieter word op 10 September in Bloemfontein gehou.





