VKLM vaar sleg tydens AfriForum se oudit
Delmas se plaaslike raad het ’n onrusbarende 3,5 uit 10 behaal.
Die munisipale oudit van AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering wat oor Mpumalanga handel het onlangs die lig gesien.
Munisipaliteite ontvang ’n indrukspunt uit 10 in die verslag, wat gegrond is op die beskikbare inligting.
Die meeste munisipaliteite het minder as 4 uit 10 behaal.
Delmas se Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) het ’n onrusbarende 3,5 uit 10 behaal.
Volgens die verslag word Mpumalanga se munisipaliteite swak bestuur, en lewenstandaarde en dienslewering ly daaronder.
Daar was verder bepaal dat 19% van VKLM se inkomste aan salarisse bestee word.
Die munisipaliteit het ook ’n negatiewe kontantbalans van net minder as R25,4-miljoen teen die einde van die 2018/2019 finansiële jaar getoon.
Dit was ’n skielike en beduidende agteruitgang, vergeleke met die positiewe balans van R5-miljoen aan die einde van 2017/2018.
Dr. Eugene Brink, bestuurder van die sentrum, het in ’n mediaverklaring op 26 Augustus gesê dat interne kontroles in die provinsie se munisipaliteite treurig is.
“Swak munisipale oudits en hoë onreëlmatige besteding is aan die orde van die dag – en dit ondermyn dienslewering. Die resultaat is onder meer nypende werkloosheid, gebrekkige vullisverwydering en ’n tekort aan kraanwater.”
Dr. Brink het verder gesê dat beter dienslewering van kardinale belang is vir sosio-politieke stabiliteit.
“Betogings neem toe en word dikwels deur swak dienslewering in munisipaliteite veroorsaak, of ten minste daardeur aangedryf en vererger. Die onlangse onluste is ’n waarskuwing dat swak dienslewering en die uitsigloosheid en armoede wat daarmee gepaardgaan ’n ryk teelaarde vir onstabiliteit bied. Die kruitvat het dan net ’n vonk nodig om te ontvlam.”
Mnr. Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, het gesê dat hierdie verslag en gegewens die noodsaak versterk dat daar gereelde verkiesings moet wees en dat dié verkiesings nie uitgestel moet word nie.
“Gemeenskappe het die reg om in verkiesings te stem en die samestelling van hul munisipale rade te wysig indien hulle ontevrede is. Daar is nie ’n regsbeginsel wat uitstel toelaat nie. “Dit is waarom ons as vriend van die hof toegetree het toe die Onafhanklike Verkiesingskommissie aansoek gedoen het om die verkiesing tot later as 27 Oktober uit te stel.”
Dr. Brink het egter aangevoer dat stem in verkiesings nie die enigste oplossing is nie.
“Suid-Afrika gaan binne die volgende paar maande die sesde keer in plaaslike verkiesings stem; nogtans het die situasie in munisipaliteite aanhou vererger. Sonder deurlopende gemeenskapsbetrokkenheid is verkiesings net nog ’n ritueel wat nie die omstandighede verbeter nie. Dit help wel as beter besture bereid is om saam met die gemeenskap te werk om dienslewering te verbeter.”
Die tekort aan amptelike inligting oor iets so belangrik soos munisipaliteite is ook sorgwekkend.
“AfriForum is die enigste organisasie wat gereeld die gehalte van riool- en drinkwater, asook vullisterreine meet. Sonder behoorlike inligting kan die besture van munisipaliteite nie ordentlike besluite neem nie,” het dr. Brink afgesluit.




