Streeknuus

Die Bulldogs bederf Kosmos Aftreeoord op Sundra se inwoners

Die doel van die besoek was om die bejaardes in te lig oor hul eie veiligheid en aangesien Augustus vrouemaand was, hulle ook in te lig rakende gesinsgeweld, boelie en geweld teen vroue.

Die bejaarde inwoners van Kosmos Aftreeoord het dit baie moeilik gehad onder die Covid-19 inperkingsregulasies sedert Maart verlede jaar.

Besoekers aan die oord en die uitgaan-geleenthede na buite was en is steeds baie skaars.

Die Bulldogs-familie van die Sundra Buurtwag het dit dus tyd geag om hul senior burgers ’n bietjie te bederf.

Die Sundra Polisie, asook die trauma en mediese span het op Vrydag, 20 Augustus by Kosmos gaan kuier.

Die doel van die besoek was om die bejaardes in te lig oor hul eie veiligheid en aangesien Augustus vrouemaand was, hulle ook in te lig rakende gesinsgeweld, boelie en geweld teen vroue.

Mnr. Derek Bester het die verrigtinge geopen deur al die gaste, sprekers en seniors te verwelkom.

Hy het elkeen wat bygedra het om die oggend spesiaal te maak, bedank.

“Dankie vir die Sundra-, Rietkol- en omliggende gemeenskappe vir die skenkings. Dankie ook vir elkeen wat vrywillig bereid is om saam te staan en die gemeenskap vir elke inwoner veiliger te maak, vir die vrywillige beraders in ons span, asook mediese span vir bystand in tye van nood,” het mnr. Bester gesê.

A.o. Welma Kirby van die Sundra polisie was volgende aan die beurt en het die seniors breedvoerig ingelig oor die verbreking van die ‘stilte rondom gesinsgeweld’.

Inligting oor die polisie se pligte en bystand ten opsigte van gesinsgeweld en die versekering was aan die bejaardes oorgedra rondom mediese aandag, skuiling en slagofferberading nadat hulle ’n slagoffer van een of meer gevalle van geslag- of gesinsgeweld was.

Die Sundra Polisie beskik ook oor ’n trauma-gerief waar opgeleide en vrywilligers vanuit die gemeenskap en Buurtwag gereed staan om die publiek te help en by te staan.

A.o. Kirby het ook vir die seniors meer inligting rondom hulle eie veiligheid binne en buite die oord gegee.

Daar was ook aan die inwoners verduidelik, dat hoewel die meeste van hulle reeds ’n hoë ouderdom bereik het, hulle steeds slagoffers van gesin-, of seksuele geweld, of selfs die prooi van ’n boelie kan word.

Met die formaliteite afgehandel, het die Sundra Bulldogs aan elke inwoner van Kosmos ’n geskenkpakkie oorhandig en toe kon daar lekker gesmul word aan tuisgemaakte sop, vetkoeke en soetgoed.

Die inwoners van Kosmos Aftreeoord het op hulle beurt hul dank teenoor die Sundra Bulldogs se trauma en mediese span, sowel as die Sundra Polisie uitgespreek vir die moeite wat hulle gedoen het om die oggend vir hulle almal baie spesiaal te maak.

“In dié tyd waarin Covid-19 ons lewens oorheers en ons nie baie besoekers ontvang of selfs buite die oord kom nie, was dit vir ons ekstra spesiaal,” het een inwoner gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button