Laerskool Witpoort oes mildelik uit Oes-kompetisie
Tydens die prysuidelingsfunksie het die vyf wenboere gesorg vir ’n hoendervleis-oomblik toe hulle aangedui het dat hulle boonop hul prysgeld aan die skool skenk.
Met die Covid-19-pandemie steeds op hande, was Laerskool Witpoort genoodsaak om met nuwe geldinsamelingsidees vorendag te kom.
So tussen innoverende idees en gedagtes het die Oes-kompetisie dan vir hierdie Laerskool tot stand gekom.
Mielieboere vanuit die omgewing was genader om elk ’n hektaar mielies aan die skool te skenk as inskrywingsfooi en 10 boere het die uitnodiging aanvaar.
Die kompetisie onder die boere was straf en daar was deelnemers vanuit Bapsfontein tot Bronkhorstspruit.
Die prysgeld was ook nie te versmaai nie en het ingesluit, R50 000 vir die eerste plek, R30 000 vir die tweede plek en R20 000 vir die derde plek, R10 000 vir die vierde plek en R5 000 vir ’n vyfde plek.
Byna ’n jaar na die kompetisie afgeskop het, was die wenboere tydens ’n glansgeleentheid by Monte de Dios op Vrydag, 27 Augustus, aangekondig.
Die wenboer vir 2021 en eerste titelhouer van die Witpoort Oes-kompetisie was mnr. Oelof Grabie met ’n tonnemaat per hektaar van 14.78 ton.
In die tweede plek was mnr. Jan Basson met 13.24 ton per hektaar.
Mnr. Emje Ferreira het weggestap met die derde plek en ’n tonnemaat van 12.2.
Mnr. Poer Cloete was vierde met 11.77 ton per hektaar en mnr. Riaan van Wyk vyfde met 11.49 ton.
“Baie geluk aan ons boere met uitstaande tonnemate gelewer,” het Laerskool Witpoort laat weet.
Laerskool Witpoort het voorts ook alle boere wat donasies tot die projek gemaak het, maar nie self deelgeneem het nie bedank.
Tydens die prysuidelingsfunksie het die vyf wenboere gesorg vir ’n hoendervleis-oomblik toe hulle aangedui het dat hulle boonop hul prysgeld aan die skool skenk.
“Laerskool Witpoort staan verstom oor die goedhartigheid van ons boere en is opreg dankbaar vir elke deelnemende boer.”
Vir Laerskool Witpoort, ’n plaasskool geleë net buite die Ooste van Pretoria en reeds 117 trotse jare in bestaan, was die goedhartigheid van deelnemende boere ’n riem onder die hart.
“Geen kompetisie of projek kan suksesvol wees sonder borge en instansies wat ons geldsinsamelingsinisiatiewe ondersteun nie. Met groot dank dus aan Dekalb/Bayer wat as ons hoofborg en gewaardeerde vennoot van die
Witpoort Oes-kompetisie na vore getree het. Dankie ook aan ons verdere borge Impac Cropsure, Agri TV, Afgri Gauteng, Reistas en Uvami leerprodukte,” het me. Bernice van Staden, bemarker vir Laerskool Wipoort, gesê.
Die 2021 Oes-kompetisie skop reeds tydens ’n bekendstellingsfunksie in November af.
As jy betrokke wil raak of wil deelneem aan die kompetisie, kontak me. Van Standen by bemarking@witpoort.co.za.








