Delmas Rolbalklub groet vir Paulo Peres
Me. Peres het vertel hulle het elke dag vir mekaar gesê het dat hulle vir mekaar is.
Delmas Rolbalklub groet ’n speler, stil, klein van postuur, maar baie groot van hart.
Mnr. Paulo Peres (70) het op Dinsdag, 24 Augustus die stryd teen Covid-19 verloor.
Hy en sy vrou, Karin Peres, die huidige klub-president van die Delmas Rolbalklub, was gereeld saam op die rolbalbane in aksie.
Die egpaar het op ’n plaas in die Sundra-distrik geboer, maar mnr. Peres was egter ook nog voltyds in diens van ’n ingenieursfirma waar hy as elektriese ingenieur gewerk het.
Soos berig in Streeknuus (13 Augustus), het die klub hul jaarlikse Presidentsbekerwedstryd op Maandag, 9 Augustus by die Delmas Rolbalklub gehad.
Dit sou dan ook onwetend op die dag, mnr. Peres se laaste wedstryd wees.
Me. Peres het aan Streeknuus gesê dat haar man aan die einde van dié wedstryd genoem het dat hy nie wel voel nie.
Die volgende dag is hy egter werk toe.
Me. Peres het intussen na Namibië vertrek waar sy tyd saam met haar bejaarde moeder sou deurbring.
“Op pad het Paulo my gebel en my meegedeel dat hy vir Covid-19 gaan toets het en dat die resultate positief was. Ek het in Kuruman ’n toets laat doen en my uitslae was ook positief.” Me Peres het onmiddellik teruggekeer na hul plaas naby Sundra.
Dit was egter duidelik dat mnr. Peres baie siek was en is hy op 20 Augustus per ambulans na die N17 Hospitaal in Springs afgevoer waar hy vier dae later dood is.
Me. Peres praat met deernis oor Paulo wanneer sy vertel van haar oorlede man.
“Ons het mekaar op die internet ontmoet en dinge het net van die begin af reg uitgewerk vir die twee van ons.
“Ons was 16 jaar saam waarvan ons 11 jaar getroud was en dit was van die gelukkigste tye in my lewe.
“Paulo was alles in my lewe, ons het soveel dinge saam gedoen en saam geniet. Of ons gaan hardloop het, rolbal gespeel het of sommer net stil was bymekaar, ons het ten alle mekaar geniet.”
Me. Peres het vertel hulle het elke dag vir mekaar gesê het dat hulle vir mekaar is.
“Nie net een keer per dag nie, nee, sommer ’n paar keer per dag. Dit is eintlik oorweldigend om terug te dink oor alles wat hy vir my beteken het en gedoen het. Hy het my weer geleer om lief te hê en te vertrou, hy was wonderlik goed vir my,” het sy gesê.
Die Delmas Rolbalklub het ’n speler en die presidente die liefde van haar lewe mnr. Paulo Peres op Vrydag, 3 September gegroet.
Die gedenkdiens was op die Peres se plaas in die Sundra-omgewing gehou.
Me. Peres het al die inwoners van Sundra en omgewing, lede van Delmas Rolbalklub, vriende en familie, asook ook vir Mark Anderson, mnr. Peres se werkgewer vir die belangstelling, bemoedigende woorde en bystand in dié baie onwerklike en moeilike tyd bedank.






