Streeknuus

Ervare valskermspringer sterf toe hy en maat in lug bots

Hilmar Backer het voluit geleef, maar ook voluit gegaan. Sy vreeslose avontuurlustige passie was ook sy weg om die tydelike met die ewige te verwissel.

’n Ervare valskermspringer is dood en sy springmaat ernstig beseer na hulle op Saterdag, 4 September, in die lug teen mekaar gebots het.

Dié valskermongeluk het omstreeks 09:50 by Skydive The Farm, digby Delmas, plaasgevind.

Mnre. Hilmar Backer (45) en Rudi Serfontein (38), albei ervare valskermspringers, het ná hulle formasie gevorm het, in die lug teen mekaar gebots.

Wyle mnr. Hilmar Backer. (Foto: Facebook)

Volgens ’n ooggetuie het albei se valskerms oopgegaan nadat hulle uit die vliegtuig gespring het.

Die ooggetuie noem verder dat die twee mans ’n formasie gevorm het, maar kort hierna het iets glo baie skeefgeloop.

Die twee het in die lug teen mekaar gebots waartydens die een se kop die ander se heup getref het.

Mnr. Backer het hierna geen beheer oor sy valskerm gehad het nie en het teen ’n baie hoë spoed na benede getuimel en die grond getref.

Volgens ’n mediaverklaring deur kapt. Carla Hartley, woordvoerder vir die Delmas Polisie, was mediese dienste onmiddellik op die toneel.

Vir mnr. Backer was dit egter te laat en kon sy lewe nie gered word nie.

Hy is op die toneel dood verklaar terwyl mnr. Serfontein (38) ernstig beseer was.

Hy is per lugambulans na ’n hospitaal afgevoer.

Mnr. Rudi Serfontein word per lugambulans na ’n hospitaal afgevoer. (Foto: Verskaf)

Skydive The Farm is sowat 20km buite Delmas.

By navraag aan ’n woordvoerder van Skydive The Farm kon geen verdere inligting rondom die gebeure van die ongeluk verkry word nie.

“Ons wag nog op die uitslae van Burgerlugvaart se ondersoek rondom die ongeluk. Ons kan daarom nie nou enige iets omtrent die ongeluk sê nie,” was die kommentaar.

Mnr. Backer was ’n inwoner van Nelspruit en ’n tekenaar van beroep. Hy was nie getroud nie.

Boodskappe van medelye het intussen op sosiale media ingestroom na die afsterwe van mnr. Backer.

“Hilmar Backer het voluit geleef, maar ook voluit gegaan. Sy vreeslose avontuurlustige passie was ook sy weg om die tydelike met die ewige te verwissel.

“Dankie vir jou mentorskap aan jong mense, jou lewe dien as rolmodel vir ander. Rus sag,” het me. Alicia Whitting, ’n kennis van mnr. Backer, Streeknuus meegedeel.

“Behalwe vir sy anvontuurlustige geaardheid en bestaan, was Hilmar ook ’n ware mentor vir die jong mense wat onder sy hande gestaan het.”

Mnr. Rudi Serfontein in aksie. (Foto: Facebook)

Op die groep Raw Adrenaline het mnr. Backer homself as passievol oor die lewe beskryf.

“Ons het net ’n kort tydjie op die aarde en daarom moet ons voluit lewe. Maak jou lewe die moeite werd om op terug te kyk, oor dit wat jy behaal het en plekke waar jy was. Dit is my motto.

Doen dinge wat jou laat voel dat jy die onmoontlike vermag het,” het sy inskrywing gelui.

Mnr. Backer sou dan ook sy lewe verloor aan wat skynbaar een van sy grootste passies was, naamlik valskermspring.

Teen druktyd kon geen verdere inligting oor mnr. Serfontein se mediese toestand verkry word nie.

Wyle mnr. Hilmar Backer. (Foto: Facebook)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button