Delmas Herleef en AfriForum werk saam om dorp se paaie te herstel
Verskeie slaggate, waarvan sommige baie groot was, was ook weer op Saterdag, 4 September gevul.
Delmas Herleef sien nou ook om na die veiligheid van inwoners.
Dié groep vrywilligers vanuit die gemeenskap is daarop ingestel om Delmas weer tot sy glorie te herstel.
Hulle het in samewerking met AfriForum Delmas, Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) en boere stoptekens op Vrydag, 3 September opgerig.
Die projek het ‘n stadige afskop gehad, want die grond was na die winter baie hard en moes VKLM eers behoorlik water gee ten einde die grond werkbaar te maak.

Uiteindelik kon die boor die gewenste uitwerking kry en was die gate in die grond gereed. Daar was in totaal 15 stoptekens opgerig, veral by kruisings waar veiligheid ‘n belangrike rol speel.
Vir die moedige eienaar van die Two Tomahawks Spur in Delmas, mnr. Julian Odendaal en sy alombekende ‘slaggat-regterhand’, mnr. Jerry Chauke, was operasie slaggate vul ook weer volstoom aan die gang.

Verskeie slaggate, waarvan sommige baie groot was, was ook weer op Saterdag, 4 September gevul.
Delmas Herleef is verder ook in die proses om straatname aan te bring en die projek bestaan uit twee dele wat insluit die verf van straatname asook die aanbring van naamborde.
Straatnaamborde word deur individue en besighede geborg.

“Soos in die meeste dorpe het die instandhouding van infrastruktuur ‘n uitdaging geword. Die herstel van slaggate en die oprigting van stoptekens is ‘n projek van meer permanente aard.
Hierin het AfriForum Delmas ook ‘n vennoot geword deur die vulsel waarmee die slaggate opgevul word asook die stoptekens en pale te voorsien,” het dr. Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk in Delmas, gesê.
Dr. Van Rensburg bedank voorts ook elke individu, instansie, besighede en boere vanuit die gemeenskap vir hul skenkings en positiewe insette tot die Delmas Herleef Projek.
Lees meer in die volgende uitgawe van Streeknuus oor Delmas Herleef se eerste verjaarsdag en hul suksesse en uitdagings gedurende hul eerste bestaansjaar.




