Streeknuus

Oorskot naby Zithobeni is dié van vyfjarige Leslie Dube

Vir die Viljoen-familie nog ’n emosionele en traumatiese ondervinding, maar soos vir klein Leslie se moeder, was dit ook vir die Viljoens ’n oomblik van afsluiting en die einde van die onsekerheid.

Die skedel, beendere en klere van ’n jong kind wat verlede maand op ’n plaas net buite Bronkhorstspruit gevind is, het nou ’n naam en ’n identiteit.

DNS-toetse het bevestig dat die oorskot dié is van die vermiste Leslie Malibongwe Dube (5).

Volgens konst. Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit Polisie, was DNStoetse op die moeder uitgevoer.

Kledingstukke wat klein Leslie op die dag van die verdwyning gedra het, ’n grys T-hempie en blou broekie, was ook op die toneel gevind.

Leslie was reeds sedert Sondag, 9 Mei vermis.

Soos berig in Streeknuus van 27 Augustus, het mnr. Deon Viljoen van die plaas Roodepoort, digby Zithobeni in Bronkhorstspruit, op 22 Augustus op die beendere afgekom.

Wat net ’n gewone Sondagmiddaguitstappie vir die familie en hul honde moes wees, het gelei tot die ontdekking van ’n onbekende kind se skedel en beendere naby ’n dam op hul plaas.

Wyle Leslie Dube. (Foto: Verskaf)

Kort ná Streeknuus oor die gru-vonds berig het, het spekulasie op sosiale media reeds onder Zithobeni-inwoners posgevat dat dit heel moontlik die oorskot van Leslie kon wees.

Volgens mnr. Viljoen het Leslie se moeder versoek om die plaas op Maandag, 13 September te besoek.

“Leslie se ma, ondersteun deur familielede, het gevra om die plek te besigtig waar klein Leslie se beendere gevind is,” het mnr. Viljoen gesê.

“Die besoek van die familie het onder die somber omstandighede goed afgeloop. Ek het hulle na die presiese plek geneem waar Leslie se oorskot gevind was.

“Leslie se mamma het nie veel gepraat nie, sy blyk baie jonk te wees en hoewel sy baie skaam is, was die hartseer duidelik sigbaar.”

Volgens mnr. Viljoen het hy ook aangebied dat die familie ’n kruisie of gedenkteken op die plek kon oprig.

“Ek het aan familie ’n fototjie wat ek in my besit gehad het, gewys en hulle het toe bevestig dat dit wel Leslie is.

“My werkers het my net na die vonds meegedeel dat daar drie kinders vanuit Zithobeni weggeraak het. Twee is gevind, maar Leslie, wat skynbaar outisme gehad het, was steeds vermis totdat sy oorskot hier op my plaas gevind is.”

Mnr. Viljoen was met die ondersoekbeampte in aanraking en hy wil bitter graag die uiteindelike bevindinge van die ondersoek hoor.

Wyle Leslie Dube (5) voordat hy in Mei spoorloos verdwyn het. Sy beendere is verle maand op ’n plaas buite Bronkhorstspruit gevind. (Foto: Verskaf)

“Ek sou wou uitsluitsel kry oor waar die kind oorlede is, was dit hier op my plaas of wat het gebeur?

“Die vrae sal bly knel en ek hoop dat die laaste vrae beantwoord sal kan word, vir my en die familie se gemoedsrus.”

Die saak word deur die Bronkhorstspruit Polisie ondersoek en die presiese omstandighede rondom Leslie se verdwyning en die oorsaak van sy dood, was teen druktyd nog onbekend.

Die polisie doen ook ’n dringende beroep op die publiek dat enige iemand wat oor inligting rakende Leslie se dood beskik, die ondersoekbeampte, sers. Mabusha, by 071 675 7300, moet skakel.

“Ons doen ook ’n dringende beroep op die gemeenskap om na hulle kinders om te sien en altyd bewus te wees van waar hulle hul bevind. Onderrig kinders sodat hulle nie met vreemdelinge in gesprek tree nie en ook nie saam met enige iemand, behalwe hul oppasser, sal wegdwaal nie.

“Moet ook nie kinders alleen by die huis laat om na hulleself om te sien nie,” het konst. Munyadziwa in ’n mediaverklaring op 14 Augustus gesê.”

Die skedel wat op die plaas Roodepoort, digby Zithobeni gevind is, het nou ’n naam en identiteit. (Foto: Verskaf)

Op die Facebook-blad van Zithobeni News spreek die gemeenskap hul medelye met die seuntjie se dood uit.

“Met ’n swaar hart moet ons julle meedeel dat die oorskot wat op die plaas Roodepoort net buite Zithobeni gevind was, bevestig is as die van Leslie Malibongwe Dube. Mag sy moeder en familie rus en vrede in God vind in hierdie baie moeilike tyd. Mag die siel van dié jong man in vrede rus.”

’n Grys T-hemp en blou broekie op die toneel waar die beendere van Leslie Dube gevind is. (Foto: Verskaf)

Lees ook: Beendere van onbekende kind op plaas by Bronkhorstspruit gevind

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button