Streeknuus

Willowbrooke Square loop weer eens onder gewapende rowers deur

“Dit is vir ons baie moeilik met die maskers wat mense deesdae weens Covid-19 moet dra. Almal is potensiële rowers.”

Die gereelde voorkoms van gewapende rooftogte by die Willowbrooke Square Winkelsentrum laat sakelui en werknemers asem ophou oor wanneer en watter winkel die volgende geteiken gaan word.

Nóg ’n gewapende roof het op Woensdag, 8 September omstreeks 09:00 by Jet Stores in die Willowbrooke Square Winkelsentrum plaasgevind.

“Ons was die oggend baie stil, daar was een persoon van die plaaslike verkeersdepartement in die winkel en kort daarna het drie mans die winkel ingestap. Dit het kompleet gevoel asof die rowers vir die kliënt gewag het om die winkel te verlaat,” het een van die kassiere gesê.

“Die een man het aan my gevra waar die vroueskoene is en ek het hom gewys, maar hy het daarop aangedring dat ek saam met hom moes stap,” het ’n duidelik geskokte en huilende werknemer Streeknuus meegedeel.

“Met my rug na die toonbank gekeer, het ek net gehoor hoe ’n vuurwapen oorgehaal en daar op een van my kollegas geskreeu word.

“Ek het toe dadelik besef dat daar fout was.

“Dit is vir ons baie moeilik met die maskers wat mense deesdae weens Covid-19 moet dra,” het sy gesê.

“Almal is potensiële rowers en nie voor jy in die loop van ’n vuurwapen vaskyk, het jy ’n idee wie kliënt en wie gewapende rower is nie.”

Volgens die personeel was hulle deur die rowers beveel om na die winkel se kantien te gaan.

Hier het nog ’n rower hulle ingewag en het begin om vrae oor die kluis en kluissleutels te vra terwyl ’n vuurwapen glo die hele tyd op hulle gerig was.

Die rowers het geld en selfone byJet Stores gebuit.

Volgens die bestuurder het die rowers een van haar medewerkers beveel om die kluis oop te sluit, maar sy het geweier.

’n Vierde man het volgens die bestuurder, in die kantien se deur verskyn met ’n gebuigde stuk staal en onmiddellik na die valkluis beweeg.

“Hy (die rower) het by die kluis gevroetel en dit oopgekry. Hy het die geld verwyder en in ’n rugsak geplaas,” het die bestuurder gesê.

Een van die ander rowers het glo hierna die stoorkas oopgesluit en selfone gesteel.

Die Delmas Polisie was om 09:16 gekontak, maar die bestuurder was meegedeel dat daar geen voertuie beskikbaar was nie.

Intussen het die AfriForum Delmas Valke Buurtwag en ’n sekuriteitsmaatskappy hul na die toneel gehaas nadat ’n lid van die publiek op sosiale media om hulp gevra het.

Die Delmas Polisie het om 10:17 op die toneel aangekom.

Volgens betroubare inligting ontvang, het die rowers met een van die werknemers se voertuig, ’n VW Polo, van die toneel gevlug, maar die motor was kort daarna deur lede van die Botleng-antikapingseenheid in Botleng teruggevind.

Teen druktyd was daar nog niemand in hegtenis geneem nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button