Hulde gebring aan plaaslike slagoffers van plaasmoorde
Vir Eloff-inwoner, me. Lita Fourie, wat self deur die trauma gegaan het van geliefdes wat vermoor was tydens ’n plaasaanval, was die stigting van die Witkruismonument dus ’n manier om eer te betoon aan mense wat op hierdie wrede manier hul lewens verloor het.
Die Witkruismonument is ’n tasbare monument vir geliefdes wat slagoffers van plaasmoorde was.
Plaas- en kleinhoewe-moorde het ook in Delmas en omgewing sy kloue ingeslaan het en menige families met net die gevoel van verlies en hartseer gelaat het.
Vir Eloff-inwoner, me. Lita Fourie, wat self deur die trauma gegaan het van geliefdes wat vermoor was tydens ’n plaasaanval, was die stigting van die Witkruismonument dus ’n manier om eer te betoon aan mense wat op hierdie wrede manier hul lewens verloor het.
Daar was weer op Saterdag, 4 September, soos elke jaar vantevore, kruise geplant vir mense wat hul lewens die vorige jaar verloor het. Altesaam 37 kruise is vanjaar by die Witkruismonument, geleë tussen Pietersburg en Potgietersrus, geplant.

In eie geledere het me. Chantel Kershaw (44) op 30 September verlede jaar gesterf, slegs een dag voor mnr. Brendin Horner (21) wreed in die Paul Roux-distrik vermoor was.
Me. Kershaw het in die motorhuis op haar ma se kleinhoewe by Rietkol in Sundra aan die hande van drie moordenaars gesterf, terwyl haar ma, me. Grieta Spiers (65) in die huis aangerand en vasgebind was.
Drie verdagtes was in verband met haar dood in hegtenis geneem. (Streeknuus, 9 Oktober 2020)
Me. Kershaw se dood het die gemeenskap geruk en ’n groot optog was vanaf Sundra na die Delmas Landdroshof onderneem.
’n Ma moes agter bly met die seer van haar dogter se dood. Na verskeie hofverskynings was borgtog vir die drie verdagtes geweier en verkeer hulle tans steeds in die Modderbee-gevangenis.
Die verhoor van die drie verdagtes neem op 4 Oktober ’n aanvang in die Delmas Landdroshof.

Mnr. Bertus Steenberg se liggaam was in Maart op sy plaas Leeupoort in die Ogies-omgewing deur ’n buurman gevind nadat sy familie vir etlike dae nie met hom in kontak kon kom nie.
Die gru-ontdekking van mnr. Steenberg (70) se liggaam, vasgebind aan sy bakkie, vermoedelik verwurg met sy eie hemp en erg aangerand, het verdere skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Geen in hegtenisnames is tot op hede gemaak nie. (Streeknuus 12 Maart)
“Sy dogter het ’n kruis ter ere van haar pa geplant. My hart huil saam met hulle oor hul groot verlies. Die onmenslike paadjie wat ons almal moet stap, is oorweldigend en meeste dae voel dit net te swaar. Om deur so traumatiese ervaring te gaan is alreeds so erg, maar as die skuldiges nie eers gevang word nie en nie boet vir hulle dade nie, hoe tel jy die stukke van jou lewe op?,”het me. Fourie gesê.
Daar was 37 kruise op 4 September geplant en teen druktyd was daar alreeds weer vier name vir kruise by die Witkruismonument.
Hou Streeknuus dop rondom die verwikkelinge by die verhoor van Chantel Kershaw se moordverdagtes vanaf 4 tot 22 Oktober.



