Streeknuus

Boerdery by Delmas se werkers teen Covid-19 ingeënt

Boshoff Bonsmaras het tot die besef gekom dat hul werkers ’n belangrike groep vanuit die gemeenskap verteenwoordig en het daarom besluit om hul werkers teen die Covid-19-virus te laat inent.

Plaaswerkers van die Boshoff Bonsmaras Boerdery, geleë tussen Delmas en Leandra, het hul inentings teen Covid-19 ontvang.

Plaaswerkers verrig ’n baie belangrike en uiters noodsaaklike diens en was daarom ook sedert die begin van inperking as sodanig geklassifiseer.

Dit sou ook skadelik vir die ekonomie of voedselketting wees as ’n groep plaaswerkers tydens die Covid-19-uitbreking in isolasie geplaas moet word.

Die eienaar van Boshoff Bonsmaras, mnr. Jan Boshoff, het ook tot die besef gekom dat sy boerdery se werkers ’n belangrike groep vanuit die gemeenskap verteenwoordig en het daarom besluit om aan die werkers vervoer en die geleentheid te verskaf hulle om teen die Covid-19-virus te laat inent.

“Ons het met ons werkers gepraat en aan hulle verduidelik dat dit heeltemal vrywillig is en dat ons hulle ondersteun in hulle individuele besluite,” het mnr. Willie De Klerk, voorman by die saai-afdeling van die boerdery gesê.

Boshoff Boerdery het dus op Maandag, 6 September, hul werkers wat aangedui het dat hulle die inenting wil ontvang, na die Bernice Samuel Hospitaal in Delmas geneem.

Daar was op die dag in totaal 19 werkers ingeënt.

Vir sommige was dit hul eerste van twee dosisse van die Pfizer-entstof, terwyl ander reeds hul tweede inenting ontvang het en dus nou ten volle ingeënt is.

“Die hospitaal en personeel was uiters behulpsaam, effektief en vriendelik. Ek is baie beïndruk met die puik diens wat ons by die Bernice Samuel Hospitaal ontvang het.

“Die werkers het nie nodig gehad om vooraf te registreer nie en moes slegs hul identiteitsdokumente saamneem. Dit was vinnig, georganiseerd en daar was aan elke werker verduidelik wat gedoen gaan word en wat om te verwag na die inenting,” het mnr. De Klerk gesê.

Na afloop van die inentings, was die span werkers met ’n gratis koffie by die Wimpy in Delmas bederf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button