Verwoestende brand laat Rayton-woning in puin
Me. Schubert het gesê dat hulle al hul besittings in die brand verloor het en tydelik tuis gaan in ’n kennis se huis op Rayton.
Reaksielede van die Rayton en Cullinan Gemeenskappolisiëringsforum (GPF), sektor 4, het op Donderdag, 16 September, onmiddellik reageer op ’n oproep dat ’n huis op Rayton brand.
Mnr. Johan van der Linde, hoof van reaksie vir die Rayton / Cullinan (GPF), het Streeknuus meegedeel dat hy dié aand omstreeks 18:10 ’n noodoproep ontvang het waarin hy meegedeel was dat ’n huis in Rayton Estates in ligte laaie is.
“Ons lede was byna onmiddellik op die toneel. Bolle rook het met ons aankoms reeds by die dak van die huis uitgeborrel. GPF-lede, sowel as lede van die gemeenskap het voortgegaan om die vlamme te probeer blus in afwagting op die Bronkhorstspruit Brandweer.
“Die brandweer het kort hierna op die toneel opgedaag,” het mnr. Van der Linde gesê.
Volgens me. Thuenetta Schubert, het sy die huis gehuur waar sy en haar seun mnr. Barry Schubert woonagtig was.
“My dogter, Mieke Schubert-Botha het vanuit Limpopo kom kuier en ons het besluit dat dit tyd was om as gesin te braai. Rustig in ons nagklere het ons begin om voorbereidings in die kombuis te doen.
“Die krag het skielik begin om uit te skop en my seun het gaan ondersoek instel. Ons het die hoofskakelaar, tesame met al die muurproppe, afgeskakel en weer een vir een aangeskakel, maar die krag het bly uitskop.”
“Mieke het opgemerk dat slegs die helfte van die huis se ligte gebrand het, waarna ons besluit het om dit daar te laat tot en met die volgende dag,” het me. Schubert Streeknuus meegedeel.
Die eienaar van die huurhuis was uitstedig en me. Schubert het gemeen om die volgende dag ’n elektrisiën te skakel.
“Ons het voortgegaan met die kos se voorbereiding en skielik was daar net hierdie helder oranje skynsel en rook vanuit die plafon. Ons het na buite gegaan en gesien dat die hele dak van die huis reeds in vlamme gehul was.”
Volgens me. Schubert het sy en haar twee kinders kaalvoet en in hul nagklere uit die huis gestorm en vir mnr. Johan van der Linde om hulp geskakel.
Die wind het baie sterk gewaai en dit was ongelukkig te laat om die verwoestende vlamme te blus.
Me. Schubert het gesê dat hulle al hul besittings in die brand verloor het en tydelik tuis gaan in ’n kennis se huis op Rayton.
Sy het al die Rayton-inwoners wat intussen reeds naamlose skenkings gemaak het, bedank.
“Ek kon darem intussen ’n wasmasjien en yskas aanskaf.
“Waar en hoe ons weer gaan oorbegin, weet ek nog nie, maar sodra ons weer ’n huis het, kan ek verder dink en beplan.”
Me. Schubert het ook die GPF-lede, veral vir mnr Van der Linde wat so vinnig op die toneel was en haar bygestaan het met al die reëlings, bedank.
Niemand is ernstig in die brand beseer nie, maar ’n paar reaksielede het wel ligte beserings opgedoen.
“Ek is net so dankbaar dat die brand nie in die nag terwyl ons geslaap het, ontstaan het nie, want ons kon dood gewees het,” het me. Schubert bygevoeg.
Mnr. Van der Linde het elke lid van die reaksiespan, sowel as inwoners wat hulp verleen het tydens die brand by die Schubert-huis bedank.
Teen druktyd was die presiese oorsaak van die brand nog nie bekend nie.









