Streeknuus

Delmas se gemeenskap help om Malita se veiligheid op te skerp

Diefstal vanuit die inwoners van Malita Aftreeoord se wooneenhede en erwe was tot op hede ook ’n algemene verskynsel.

Dit is geen geheim dat die senior burgers van die Malita Afrteeoord in Delmas gereeld onder kriminele deurloop nie.

Streeknuus het voorheen in verskeie uitgawes berig oor inwoners van die oord wat wreed aangeval, vasgebind en beroof is.

Diefstal vanuit die inwoners se eenhede en erwe was tot op hede ook ’n algemene verskynsel.

Bejaardes wat al oorval, aangerand en beroof was, is me. Margerie Cillié (95) in Oktober verlede jaar (Streeknuus, 30 April 2020) en me. Lily Oosterhuyzen (74) op 7 Oktober verlede jaar. (Streeknuus, 16 Oktober 2020).

Vir me. Minda Gouws was die lot van die senior burgers net een te veel en het sy besluit om die gemeenskap te nader vir geld om die sekuriteit by Malita op te skerp.

Sy het woord by daad gevoeg en by mnr. Celso dos Santos, eienaar van Pick ’n Pay in Delmas, om hulp gaan aanklop.

Mnr. Dos Santos wat algemeen bekend is vir sy ruimhartige bydraes tot die gemeenskap van Delmas, het ingestem om die projek te ondersteun en met die uitvoering daarvan by te staan.

Met mnr. Rassie Erasmus, opsigter by Malita, se samewerking, is knelpunte in Malita se sekuriteit uitgewys en bepaal en die bal was aan die rol.

Me. Gouws het verskeie sakelui en individue op Delmas genader.

Mnr. Louwtjie Scheepers, mnr. Bennie Labuschagne, mnr. Chris Williams, mnr. Giep en me. Enalien Stander en Stander en Vennote het finansiële bydraes tot die projek gelewer.

“Ek bedank elkeen van hierdie besighede en persone vir hulle bydraes, dit word opreg waardeer,” het me. Gouws gesê.

Veiligheidskameras was deur mnr. Cameron McAdam van CamFX gratis geïnstalleer en word ook gratis deur CamFX gemonitor terwyl mnr. Cobus Fourie en sy seun mnr. Gorden Fourie van GMC Medical and Safety vir die installasie van die koppeling tussen die selfoon en alarm gesorg het.

Mnr. Erasmus het as opsigter, en ook namens die inwoners van Malita Aftreeoord elkeen bedank vir hulle bydraes tot die beveiliging van die inwoners.

“Wanneer ek, as opsigter, nou so deur die perseel stap en jy sien hier is ’n kamera en daar is ’n kamera, gee dit net daardie ekstra gevoel van veiligheid.”

Mnr. Dos Santos het op sy beurt me. Gouws as die baanbreker van die projek bedank sowel as elkeen wat betrokke was.

Hy het voorts by voorbaat vir mnr. Carel Botha van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag bedank vir die beplande projek om Malita se heining deur die oprigting van lemmetjiesdraad te beveilig.

“Ek hoop en glo dat die inwoners van Malita voortaan ’n rustiger en veiliger nagrus sal kan geniet,” het mnr. Dos Santos afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button