Delmas se eie Toyota Knight, Tanya Pretorius doen dit weer
Op Vrydag, 17 September was die eerste balle by die Delmas Gholfklub ten bate van Jerigo Oord in Eloff, Laerskool Delmas se opgradering van hul hokkiebane sowel as Nyahbingih Roaring Lion Development Assosiasie se skoonmaak-, herwinning- en groenprojekte, afgeslaan.
Delmas se eie Toyota Knight het weer eens ’n baie suksesvolle gholfdag ten bate van drie verskillende instansies gehou.
’n Vrou van staal en iemand waarop die gemeenskap en haar werkgewer kan reken, is me. Tanya Pretorius.
Me. Pretorius het ’n gholfdag aangebied as haar jaarlikse funksie tot die bydrae binne haar gemeenskap as deel van haar eliteposisie in die Toyota Knights-kringe.
Op Vrydag, 17 September was die eerste balle by die Delmas Gholfklub ten bate van Jerigo Oord in Eloff, Laerskool Delmas se opgradering van hul hokkiebane sowel as Nyahbingih Roaring Lion Development Association se skoonmaak-, herwinning- en groenprojekte, afgeslaan.
Delmas se gholfbaan het behoorlik gewemel van ernstige én minder ernstige spelers nadat 15 vierbal-spanne tot die stryd toegetree het.
Die dag was vol pret en plesier en almal het met oorgawe balle geslaan.
Daar was egter ook ernstig meegeding vir ’n blinkrooi motor wat deur NTT Toyota in Delmas geskenk sou word vir daardie befaamde kolhou.
Dié prys het, ten spyte van ’n paar balle wat net-net kort van die putjie op die setperk geval het, nie ’n nuwe baas teen die einde van die dag se spel gekry nie.
Pryse vir die wenspanne was daar egter volop en me. Pretorius het die borge wat bygedra het om van die dag op Delmas se gholfbane so ’n groot sukses te maak, bedank.
Me. Pretorius het ook in besonder vir NTT Toyota op Delmas, Cartrack, Car Care, Toyota Finansiële Dienste, Remax Dazzle, Pretorius Blomme, VKB, MP Auto Body en Glas, Michael Mcgregor, H&D Vervoer, Normans Hardeware, Nova Carwash, Guns & Ammo, Gossa Holdings, Velonix en Whangwha Boerdery vir pryse, geskenkbewyse en borge wat vir die gholfdag beskikbaar gestel was, bedank.









