Rou riool in Eloff-strate laat inwoners al vir jare rooi sien
Ontstoke inwoners van Eloff het dit eens, hulle is moeg van riooluitvloeisel wat soos spruite in die strate afloop.
Digby die hoofingang van Laerskool Eloff in Taylorstraat staan daar poele.
Dit is egter nie poele water ná ’n heerlike reënbui nie, maar wel groen poele onverwerkte rioolvuil afkomstig vanaf ’n woonstelblok in dié buurt.
Dit is ’n probleem wat skynbaar reeds in 2017 ’n aanloop geneem het met die bou van dié woonstelle.
Volgens betroubare inligting ontvang, was bouplanne aanvanklik goedgekeur vir die woonstelle met die gebruik van septiese tenks vir beheer van die riooluitvloeisel.
Daar was egter meer woonstelle gebou as waarvoor die septiese tenks voorsiening gemaak het en dit het die oorvloei van rioolafval tot gevolg gehad.
Om sake te vererger word die toevoerpyp wat riool vanaf die woonstelle na die septiese tenk lei, glo ook gereeld deur ’n nabygeleë vervoermaatskappy se swaarvoertuie beskadig.
Dit veroorsaak dan lekkasies wat verder daartoe aanleiding gee dat riooluitvloeisel in die strate beland.
Volgens me. Diane Bath, raadslid vir die Demokratiese Alliansie (DA) by die Victor Khanye Munisipaliteit (VKLM), het die munisipaliteit oor die afgelope tyd verskeie terreinbesoeke afgelê en die situasie onaanvaarbaar bestempel.
Daar word tans beplan om die uitvloeisel vanaf die woonstelle op die hoek van Taylor- en Saint Andrewstraat aan die hoofriool-afvoerpyp van VKLM te koppel.
Me. Bath het bevestig dat die proses wel ’n aanvang geneem het, maar intussen is Taylorstraat en omgewing heeltemal ontoeganklik vir mens, dier en selfs voertuie.
Me. Bath het verder gesê dat VKLM die eienaars en beheerliggaam van die woonstelgebou verantwoordelik sal hou vir die kostes van die aansluiting na Delmas se hoof riooltoevoerpyp.
“Die situasie is uiters nalatig vir die gesondheid en veiligheid van inwoners en dui volgens Artikel 24 en 27 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur op kriminele verwaarlosing van die omgewing,” het me. Bath Streeknuus verder meegedeel. Aan die lig hiervan was ’n saak reeds in 2017 deur me. Bath by die Sundra Polisie aanhangig gemaak.
Volgens haar dra die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ook kennis van die probleem.
Tydens Streeknuus se besoek aan Taylorstraat-omgewing was die reuk byna onuithoudbaar en was dit duidelik dat die toestand ’n gesondheidsrisiko inhou.
Dit was verder opmerklik dat sommige inwoners in die onmiddellike omgewing nie toegang tot hulle opritte het sonder om deur die riooluitvloeisel te moet ry nie.
Te voet sou dit beteken dat die inwoners plek-plek enkeldiepte deur die poele onverwerkte rioolvuil sou moet stap.
Ontstoke inwoners van Eloff het dit eens, hulle is moeg van riooluitvloeisel wat soos spruite in die strate afloop.
“Dit is reg voor die ingang van Laerskool Eloff. Die probleem kom al oor jare. Daar is ’n aanhoudende poging om die riool aan die van die munisipaliteit te koppel. Daar word slote gegrawe, dan oor die pad vanaf die woonstelle en dan weer deur die erf van die huis aangrensend aan die Laerskool, maar die probleem vererger net by die dag.
“Die plan om te koppel, blyk nie te werk nie,” sê mnr. André Gildenhuys, inwoner van Eloff.
Die kwellende vraag bly egter staan, wanneer gaan die situasie opgelos wees? Die volgende vraag op inwoners se lippe is die van VKLM se rioolstelsel.
Hoewel daar tans opgradering aan die rioolaanleg gedoen word, is dit welbekend dat die stelsel heeltemal ontoereikend is vir behoorlike rioolafvalbeheer.
“Hoe gaan die stelsel nog die lading van dié massiewe woonstelblok bykomend kan hanteer,” het ’n besorgde inwoner van Delmas laat hoor.
Teen druktyd het Streeknuus nog geen terugvoer vanaf VKLM gekry oor die beplande koppeling van die woonstel se riool aan VKLM se hooftoevoer nie.






