Vermoorde oud-Delmasser se dogter maak haar hart oop
Vanuit die twee beskuldigdes se verduideliking was verstaan dat hulle me. Potgieter se rooi VW Citi Golf wou buit tydens die aflewering van ’n televisie.
Me. Iris Potgieter is glo 40 keer met ’n skroewedraaier gesteek waarna sy uit haar eie voertuig gegooi was.
In die proses was haar rug gebreek.
Soos in Streeknuus (3 September) berig, is dié oud-Delmasser vermoor en haar liggaam in ’n oop stuk veld digby die Riverside informele nedersetting buite Dewetsdorp gevind.
’n Enigste kind, me. Anzelle Cole, bly agter en probeer sin maak uit die wrede dood van haar ma en die ouma van haar eie twee kinders, Marozelle (9) en Juandré (6).
Me. Cole het Streeknuus meegedeel dat haar ma nooit getroud was nie.
“My ma was sedert 1990 in diens van Eerste Nasionale Bank (ENB) en ons moes baie rondtrek.

Daar is toe besluit dat dit beter sou wees as ek by my ouma, me. Janetta Potgieter, in Bloemfontein woon en skoolgaan en net naweke en skoolvakansies by my ma kuier.”
Me. Potgieter was vanaf 2006 tot en met 2016 by FNB op Delmas werksaam.
Sy het hier op Delmas op 60-jarige ouderdom afgetree waarna sy na Bloemfontein verhuis het en haar intrek by haar dogter, me. Cole en dié se gesin, geneem het.
Volgens me. Cole het haar ma in 2018 na Dewetsdorp verhuis nadat ’n oud-vriendin haar oortuig het om weer ankers in dié dorp te gooi.
“Een van haar beste eienskappe was om mense maklik te vertrou en net die beste in hulle raak te sien. Dit het egter weer tot haar nadeel gelei toe sy uit haar hele pensioen geswendel is.”
Me. Potgieter moes hierna ’n snoepwinkel op Dewetsdorp bedryf en sy en haar skoonseun, mnr. Morné Cole, het naweke ’n kosstalletjie by ’n plaaslike mark opgeslaan.
Sy het later ook boeke gekoop en verkoop om haar karige staatspensioen aan te vul.
Op die dag van haar moord, Woensdag, 25 Augustus, het sy en haar ma oor die telefoon gesels.
“My ma het beplan om die eerste naweek in September te kom kuier en ons twee het telefonies beplanning gedoen omdat dit Marozelle se verjaarsdag sou wees. My ma het vreeslik daarna uitgesien om haar kleindogter met ’n melkskommel vir haar verjaarsdag te verras.”
Me. Cole het gesê dat haar ma haar ook tydens dié gesprek oor ’n man ingelig het wat haar soms met klein werkies bygestaan het.

Dié man het me. Potgieter gevra om hom te help deur ’n televisie vir sy vriendin op dieselfde dag te gaan aflaai.
“Die dag het verbygegaan en ek en my kinders was gereed om vir ete aan te sit, toe my tannie gebel het.
“Dit was vreemd, my maag het gedraai, want ek het nie daardie dag weer iets van my ma af gehoor nie.”
“My tannie se woorde was: ‘Jammer om jou te moet meedeel my skat, maar jou ma is vanmiddag vermoor. Hulle het haar liggaam gekry. Daar is ’n ondersoek aan die gang’.”
Me. Cole het net aanhoudend ‘nee, nee’ gegil en toe inmekaar gesak.
Sy moes die volgende dag me. Potgieter se lyk in Botshabelo se lykshuis gaan uitken het.
Me. Cole het aan Streeknuus vertel drie mense iss in hegtenis geneem, maar dat dit blyk nou dat net die werker en dié se vriendin by die moord betrokke was.
Volgens me. Cole, wou die twee beskuldigdes glo me. Potgieter se rooi VW Citi Golf tydens die aflewering van die televisie buit.
Me. Potgieter is na wat verneem word, in haar motor oorval, maar het skynbaar teruggeveg.
“Sy is glo deur die vrou met ’n skroewedraaier aangeval en is later uit die motor geslinger. In die proses het haar rug gebreek.
“Haar bankkaarte en selfoon is afgeneem en sy is op die toneel agtergelaat om daar te sterf,” het me. Cole gesê.

Me. Potgieter se motor is twee dae later gevind en suksesvolle inhegtenisnames het gevolg.
Die twee beskuldigdes het, volgens me. Cole, skuldig gepleit op die moord op haar ma.
Me. Cole het verder bevestig dat die twee beskuldigdes op Woensdag, 6 Oktober weer in die Streekshof op Dewetsdorp sou verskyn om ’n aansoek om borg voor die hof te bring.
Intussen treur wyle me. Potgieter se twee geliefde kleinkinders, Marozelle en Juandré oor ’n ouma wat nie meer daar is nie en probeer ’n dogter vrede maak met die wrede manier waarop sy haar ma aan die dood moes afstaan.
Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor hoe dit gekom het dat ’n oud- Delmas ENB-kollega en vriendin van wyle me. Potgieter haar lewe tydens haar verblyf in Delmas gered het en hoe dié twee vroue se roudienste albei op 10 September plaasgevind het.




