Streeknuus

Delmas-staatmaker se liggie gedoof

As geregistreerde verpleegkundige was me. Petro van Eyk vanaf 2004 by Ons Eie Ouetehuis in Delmas werksaam.

Nie net groet kinders, kleinkinders en familie vir me. Petro van Eyk nie, maar ook ’n hele gemeenskap.

Gebore in Springs en opgegroei in Eloff was me. Van Eyk alom bekend as ‘Petro-veearts’ en later jare as ‘Petro-Ons Eie’, deur die gemeenskap geken as omgee-vrou vir mens en dier.

Me. Van Eyk is op 12 November 1955 gebore, maar op 27 September, in die ouderdom van 66 jaar, het sy finaal gegroet na ’n lang stryd teen die nagevolge van Covid-19.

Me. Van Eyk was vir sowat 23 jaar werksaam by veeartse in Delmas.

Hier het sy altyd met ’n glimlag gereed gestaan om siek dier en bekommerde eienaar te woord te staan, te troos en raad te gee met liefde en omgee wat uit haar gestraal het.

As geregistreerde verpleegkundige was sy vanaf 2004 by Ons Eie Ouetehuis in Delmas werksaam.

Ook hier het haar gestalte van omgee-mens voortgeduur.

By Ons Eie het sy snags by sterwende bejaardes se beddens gesit, want haar gunsteling sêding was: “Jy kom nie alleen die lewe in nie en jy verlaat nie alleen die lewe nie.”

In me. Van Eyk se begrafnisbrief word sy opgesom as “’n Goeie mens wat soos ’n liggie deur die nag wandel en op haar pad weer al die gedoofde liggies aansteek.”

Volgens mnr. Frederick de Lange het hy werklik vir me. Van Eyk by Ons Eie leer ken nadat sy eie moeder in 2002 oorlede is.

Kort hierna het hy begin om die bedienings op Vrydae by Ons Eie waar te neem.

“Ons het oor die jare ’n baie unieke Christenband oor kernwaardes opgebou en dit was baie spesiaal,” het mnr. De Lange gesê.

So het dit dan ook gebeur dat me. Van Eyk gevra het dat die viering van haar lewe deur mnr. De Lange waargeneem moes word as sy tot sterwe sou kom.

“Ek het nie nodig om enige iemand te oortuig oor wie Petro was nie. My woorde kom vanuit my hart oor ’n persoon wat ek baie goed geken het en wie ’n baie lang pad in Delmas saam met baie van sy inwoners gestap het.”

Hy het daarom ook nie na me. Van Eyk se begrafnis verwys nie, maar eerder na ’n dankseggingsdiens, ’n viering van me. Van Eyk se lewe op aarde.

“Eenkeer in jou lewe vind jy daardie spesiale mens, iemand wat jou hart aanraak, iemand saam met wie jy om die kombuistafel kan lag en gesels, maar jou ook in stilte kon aanraak,” het me. Ansa Oosthuizen oor haar spesiale vriendin, me van Eyk gesê.

“Haar uurglas het leeggeloop, jy was gereed, maar ek nie. Ek gaan vir Petro verskriklik mis.”

Me. Van Eyk se kinders, kleinkinders, familie en vriende het haar op 4 Oktober tydens ’n viering van haar lewe in ’n intieme diens in die Rome Saal in Delmas gegroet.

“Ma se lig hier op die aarde het vir ons helder geskyn, maar nou is Ma omring deur Goddelike Lig. Ma se aardse reis is voltooi, rus sag in die ewige vreugde en vrede van ons Hemelse Vader.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button