Streeknuus

Laerskool Sundra se nuwe adjunkhoof wil leerders se lewens aanraak

"In my opinie is dit ’n onderwyser se plig om jong lewens aan te raak en te vorm.”

Mnr. Jacques de Beer is die nuwe adjunkhoof vir Laerskool Sundra, maar glad nie ’n onbekende gesig in die Delmas-omgewing nie.

Hy was voorheen ’n onderwyser by Laerskool Delmas.

Mnr. De Beer het in 2001 aan die Laerskool Ermelo gematrikuleer waarna hy onderwys aan die Universiteit van Pretoria studeer het.

Sy eerste tree van skoolgee was in 2006 aan Laerskool JJ van der Merwe op Ermelo.

Mnr. De Beer was vanaf 2008 betrokke by Laerskool Delmas waar hy ’n gewilde onderwyser met ’n passie vir die sportveld was.

Aan die einde van Augustus het mnr. De Beer die hekke van Laerskool Delmas agter hom toegetrek en op 1 September het hy die deur van die kantoor van adjunkhoof by Sundra Laerskool oopgestoot.

Op die vraag oor hoe hy voel oor sy nuwe status as adjunkhoof by Laerskool Sundra, was sy antwoord: “Ongeag van my posisie of posbeskrywing, is my toekomsvisie om ’n verskil in kinders se lewens te maak. Of dit nou op die sportveld, die klaskamer of ’n kind se persoonlike lewe is, dit maak nie saak nie. In my opinie is dit ’n onderwyser se plig om jong lewens aan te raak en te vorm.”

Hy het gesê Laerskool Sundra was vir hom ’n ongelooflike aangename verrassing gewees.

“My kollegas is nie net kollegas nie, maar eerder ’n familie wat in mekaar se lief en leed deel asook mekaar se hande sterk maak. Ek het reeds lief vir die skool en my nuwe familie geword.”

Mnr. De Beer het verder gesê dat daar wel, soos met elke nuwe begin, uitdagings is, maar dat hy baie daarna uitsien om dit aan te pak en te oorbrug.

Hy het verder genoem dat Covid-19 ’n uitdaging vir elke skool is, soos vir ’n ieder en elk van die publiek daar buite.

Volgens hom is dit egter nie ’n verskoning om die wêreld en verantwoordelikhede op sy te skuif nie.

“Die mens is geskape om te kan aanpas. Daarom het Covid-19 my geleer om aan te pas, jou geliefdes te waardeer en elke dag voluit te leef.

“Koester dit wat jy het en vertrou dat God steeds in beheer is van ons almal se lewens.”

Laerskool Sundra se hoof, me. Vanessa van Rooyen, en die hele personeel het vir mnr. De Beer baie geluk gewens met sy aanstelling as adjunkhoof en sien daarna uit om ’n pad saam met hom te stap.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button