Kapers skiet motoris in rug, buurtwag kom tot die redding
Kort daarna het sy en haar man iets vreemds gehoor en gestop om vas te stel wat fout was. Hulle is glo hierna deur dieselfde twee mans met wapens gedreig, voorwerpe is na hul voertuig geslinger, daar was aan die vensters en deure gehamer, waarna die bestuurder van die Audi van die toneel weggejaag het.
Die Sundra Bulldogs Buurtwag het op die slagoffers van ’n kapingspoging afgekom toe hulle op Saterdag, 9 Oktober hulp op ’n ongelukstoneel verleen het.
Dié buurtwag het dié aand kennis gekry dat daar ’n ongeluk op die Springs / Etwatwa-oorbrug plaasgevind het.
Twee voertuie was in dié ongeluk betrokke.
Lede van die Bulldogs, sowel as hul mediese span, het na die toneel gehaas waar hulle hulp aan die insittendes verleen het.
Volgens mnr. Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs, was dit nie ’n ernstige ongeluk nie en daar was slegs ligte beserings.
Kort hierna het dinge egter vinnig verander in ’n toneel wat herinner aan ’n fliek uit Hollywood.
“Ons het ’n slag gehoor en baie kort daarna ’n vrou wat histeries gil.”
Volgens mnr. Bester het hy onmiddellik teen die wal vanaf die afrit op die N12 gehardloop.
Hy het ’n Audi A4 opgemerk wat deur die versperring gebars en aan die verkeerde kant van die N12, rigting Delmas, beland het.
’n Gillende vrou het probeer om die N12 te voet oor te steek.
“Al waaraan ek kon dink, was om die vrou te keer sodat sy nie onder die wiele van aankomende verkeer beland nie. Die vrou het gesê dat haar man geskiet is en dat hulle dringend hulp benodig.”
Volgens mnr. Bester het die vrou hom meegedeel dat hulle by die berugte Etwatwa-afrit, in die rigting van die N12 afgery het toe hulle twee mans langs pad gewaar het, maar dit het nie verdag voorgekom nie.
“Kort daarna het die egpaar iets vreemds gehoor en hulle het stilgehou om vas te stel wat fout was.
“Hulle is glo hierna deur dieselfde twee mans met wapens gedreig, voorwerpe is na hul voertuig geslinger en daar was aan die vensters en deure gehamer.
“Die bestuurder van die Audi het van die toneel weggejaag. Skote is afgevuur, waarvan een die motoris getref het.”
Die vrou het vir mnr. Bester vertel dat haar man aangehou ry het, maar weens die koeëlwond het hy beheer oor die Audi verloor en deur die versperring op die N12 gebars.
“Gelukkig was ons mediese span reeds naby en kon hulle dadelik begin om eerstehulp aan die gewonde man te verleen.”
Dit het baie gou geblyk dat die man ernstig gewond was.
Volgens mnr. Bester, het die man met sy kop op die stuurwiel gelê.
“By nadere ondersoek het ons gesien dat hy in die rug gewond is. Die koeël is bo by sy skouer in en onder aan die linkerkant uit. Ons het die nodige gedoen en ook vir ER24 gekontak.”
Mnr. Bester het gesê twee koeëls het die Audi vanaf die agterste passasiersvenster getref.
Een het in die kopsteun van die bestuurdersitplek vasgeslaan, terwyl die tweede een die bestuurder van die Audi getref het.
Intussen het reaksielede van die Bulldogs na die kapingstoneel gehaas, maar kon niks opspoor nie.
Die Daveyton / Etwatwa Polisie is ook na die toneel ontbied.
“Die gewonde man was baie swak. Ons vermoed dat hy in die long gewond was en ook moontlik inwendig gebloei het.”
Die Sundra Buurtwag se mediese span het die man gestabiliseer en sover as moontlik gemaklik gehou totdat die ambulans opgedaag het.
“Ons doen maar wat ons kan vir die publiek daarbuite. Dit is ons roeping en dit is wat ons sal bly doen vir solank as wat ons kan,” het mnr. Bester afgesluit.
Die gewonde man se identiteit en mediese toestand is nie bekend nie.
Teen druktyd kon geen verdere inligting vanaf die polisie van Daveyton of Etwatwa verkry word nie.





