Vreemde vonds in gebruikte woonwa op Delmas verwar
Die geskiedenis en afkoms van die mortier in die gebruikte woonwa wat in Delmas gevind was, is na alle waarskynlikheid saam met die vorige eienaar graf toe.
Groot was die skok toe die nuwe eienaar van ’n gebruikte woonwa op ’n mortier afgekom het.
Die eienaar van ’n baie gewilde kuierplek net buite Delmas het onlangs ’n tweedehandse woonwa aangekoop.
Dit moes skoongemaak word en tydens die proses was daar die skokkende vonds gemaak.
’n Mortier, netjies versteek, het sy verskyning gemaak.
Die Delmas Polisie is ontbied, maar weens standaard protokol kon die mortier nie hanteer word nie.
Hoewel die mortier glo onskadelik was en dus nie meer werklik ’n gevaar ingehou het nie, was daar geen risiko’s geneem nie.
Volgens kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir Delmas Polisiestasie, was die springstofeenheid gekontak om die mortier te beveilig en van die toneel te verwyder.
Dit is vir ballistiese toetse weggestuur en daar word tans op die uitslae daarvan gewag.
Tog was dit nie die eerste keer dat ’n Delmas-inwoner op so ’n verrassing afkom nie.
In Streeknuus (9 April) was daar berig oor ’n boer van die omgewing wat op ’n mortier afgekom het terwyl hy gras in die veld gesny het.
Ook in hierdie geval was die springstofeenheid ontbied en was dit veilig van die toneel verwyder.
Die Delmas Polisie maan die publiek om geensins met vreemde toestelle te peuter of dit te hanteer nie, maar eerder dadelik die polisie te ontbied.
Die geskiedenis en afkoms van die mortier in die gebruikte woonwa is na alle waarskynlikheid saam met die vorige eienaar graf toe.




