Streeknuus

Nesher: van nederige begin in 2001 tot groot drome in 2021

Vandag huisves die skool 106 leerders en bars letterlik uit sy nate.

Soos die geskiedenis dit wou hê, het me. Stella Haasbroek, toe nog ’n onderwyser by ICHTHUS Christenskool in Dundee, een oggend tydens ’n saalopening deur Ds. Henk Prinsloo uit sy boodskap vanuit Deuteronomium 32: 11- 12 ’n spesiale roeping gekry: “Soos ’n Arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels – die Here alleen het hom gelei en daar was geen vreemde god by hom nie.”

Met die aanhoor van hierdie skrif was die saadjie geplant en die stigting van nog ’n Christenskool in haar hart gebore.

Uit die skrifgedeelte was die woord Arend geneem wat in Hebreeus Nesher is.

Vandaar dan die naam van dié skool, geleë in Eloff: Nesher Privaatskool, gebou op Christelike beginsels, wat tot vandag toe op opvoedkundige wyse aan die leerders oorgedra word.

Gedurende Januarie 2001 is Nesher onder die vaandels van mnr. Jaco en me. Stella Haasbroek op die been gebring. Nesher het eers hul skooltjie vanuit ’n huis en later vanuit die NG Kerk, Moedergemeente op Delmas se Sondagskoolklasse bedryf.

Me. Haasbroek het die skool op ’n vaste koers geplaas, maar het teen die einde van 2008 die skool aan ander oorgegee.

“Ek het my dogter in 2006 in gr. 1 by Nesher ingeskryf en ek was dus dikwels as mamma by die skool betrokke. Toe die aanbod kom dat ek moes kom uithelp by die gr. R-klassie, het ek geroepe gevoel om dit te aanvaar,” het die huidige eienaar en skoolhoof, me. Lizette van Onselen, gesê.

Volgens me. Van Onselen het haar studies in die onderwys ook sommer hier posgevat.

Die kontrak by die NG Kerk Moedergemeente het in 2010 uitgeloop en die skool moes aanbeweeg.

Tyd vir tou opgooi was daar nie en die skool is op ’n plaas net buitekant Delmas voortgesit.

Me. Van Onselen het die pad saam met Nesher gestap as gr. R-onderwyser en in Januarie van 2011 het sy die skool oorgeneem en hoof geword. Die skool is in April 2014 na die Van Onselens se kleinhoewe in Eloff verskuif.

Vandag huisves die skool 106 leerders en bars letterlik uit sy nate.

Konstruksie het begin vir die oprigting van meer klaskamers en ablusiegeriewe.

Nesher huisves ook reeds drie leerders met gestremdhede en is geregistreer om LSEN-leerders te akkommodeer.

Volgens me. Van Onselen, is dit ’n toekomsvisie om dit uit te brei, omdat die Delmas-omgewing oor geen skool beskik wat na kinders met spesiale behoeftes kan omsien nie.

“Vanjaar het ons Engels-medium begin infaseer met Grade R, een en vier. Die graad RR- en RRR-klassies vorder ook fluks in Afrikaans en Engels. Ons droom ook oor ’n koshuis en het sopas begin om die skool oor te bou,” het me. Van Onselen verder gesê.

Nesher vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en hoewel die pad nie altyd met rose besaai was nie, stap me. Van Onselen, die personeel, die ouers en die gemeenskap saam breëbors vorentoe.

“Die behoefte is so groot om die skool uit te brei en ons is positief oor die dag van môre. Ons as aardbewoners kan nie die wêreld red nie, maar óns wêreld is hierdie omgewing, en hier kan ons ’n verskil maak.

“Elke gemeenskap kan begin deur na homself en sy onmiddellike omgewing om te sien. Nesher is daar om met God se krag na ons toekoms om te sien en óns toekoms begin by ons jeug.

“Ons glo dat hierdie skool ’n groot pad in baie kinders se lewens gemaak het tot hier toe – ’n pad van hoor en doen. Ons sal voortgaan tot God self ons stop.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button