Streeknuus

SAVF groet Paula Schoeman ná 72 jaar van dienende liefde

Me. Rinette Schutte het namens die Delmas SAVF-lede vir me. Paula Schoeman bedank vir dit wat sy, oor ’n tydperk van 72-jaar vir die organisasie gedoen en beteken het. “Ons kan net hoop om te kan voortbou op die fondasie wat deur tannie Paula gelê is.”

Lede van Delmas se Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het me. Paula Schoeman (92) ná 72 jaar se onbaatsugtige dienslewering in die organisasie van haar pligte onthef.

Die lede het vir me. Schoeman (tannie Paula) tydens ’n hartroerende, maar ook gesellige byeenkoms by die NG Kerk se Moedergemeente in Delmas op Vrydag, 8 Oktober gegroet.

“Dankie vir die voorreg om te kon kom waar die SAVF vandag is, dankie vir tannie Paula, dankie vir die vrou wat U geskape het, vir die vrou wie sy is, die vrou wat haar diensbaar gemaak het in U akker, Here,” het me. Joan Holtzhauzen tydens ’n roerende openingsgebed gesê.

“Mag die paaie voor tannie Paula se voete geluk bring vir die jare wat nog oor is.”

Me. Rinette Schutte, voorsitter, het namens die SAVF-lede vir me. Schoeman bedank vir dit wat sy vir die organisasie gedoen en beteken het.

“Ons kan net hoop om te kan voortbou op die fondasie wat deur tannie Paula gelê is,”

Me Sharon Rabie, bestuurder by Ons Eie Ouetehuis, het me. Schoeman, namens die personeel en inwoners, bedank vir al die jare se opoffering, voorbidding en omgee.

“Sy het oor al die jare ’n aanvoeling gehad vir wanneer een van die bejaardes nie wel was nie en het sy in haar stiltetyd hierdie mense in haar gebede opgedra.

“Sy het ook altyd vir Ons Eie se personeel gebid en dit het ons deur die jare gedra.”

Me. Rabie het me. Schoeman verseker dat sy steeds en altyd welkom sal wees by Ons Eie om te kuier by die siekes en die personeel en ’n drink ’n koppie tee te kom drink.

Hierna was die vrou van die dag, me. Schoeman self aan die woord: “As daar net een boodskap is van my dan is dit; niks is van my nie, alles is Genade. Ek sien U goedheid oral.”

Me. Schoeman het vertel dat sy danksy haar skoonmoeder 72 jaar gelede by die SAVF in Delmas betrokke geraak het en nooit weer omgekyk het nie.

“Ek en my man is in Oktober 1949 getroud en gedurende November van daardie jaar het my skoonmoeder my meegedeel dat ek moes saamkgaan SAVF vergadering toe. Ek was daar-en-dan ingeskryf as Delmas SAVF-lid.”

Me. Schoeman het dan ook elkeen bedank wat haar afskeidsfunksie bygewoon het.

“Mag die Here julle elke dag die krag gee om hierdie liefdeswerk te kan voortsit. Daar is sóveel armoede waarvan ons nie weet nie. Die Federasie is na die Engelse oorlog deur ’n Engelse vrou begin en sy het daardie tyd gesê dat daar werk was om te doen. Daar is steeds werk om te doen en dankie vir die SAVF-lede dat julle dit nog steeds voortgaan om die onbaatsugtige diens te lewer.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button