Sibbe palm perdry-pryse in
“As mens op ’n perd se rug groot word dan voel elke rit soos ’n wen.”
Michael (9) en Annabella le Riche (7) van Laerskool Du Preez van Wyk, het prestasies in perderuiterkuns behaal.
Die twee Dupie-ruiters het opslae gemaak by die nationale deelname in die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir SANESA (skole) in Parys op 3 en 4 Oktober.
Annabella het vyf eerste plek-rosette ingepalm, sowel as vyf tweede plekke en sy deel nou die titel van kampioen met ’n ander ruiter.
Michael is kort op sy suster se hakke en het op vlak vier, drie eerste plek-rosette verower.
Hy het ook vier tweede plekke, ’n derde plek en ’n vierde plek behaal.
Hy het algeheel ’n sesde plek behaal en is in die ope-afdeling na vlak drie bevorder.
Dié broer en suster het ook vroëer vanjaar aan die Western Mounted Games by Dunbladen deelgeneem
Annabella en haar perd Silver het al vyf haar deelnames gewen en was algeheel bekroon as die kampioen oor ’n tydperk van twee dae.
Sy het ook haar vlak een met drie eerste plekke, ’n tweede plek, ’n derde plek en ’n vierde plek behaal.
Verskeie ander pryse was ook deur haar verower.
Michael en sy perd Polokwane se grootste prestasie dusver was dat hy in SANESA skole van vlak 0 na vlak 4 in een jaar gespring het en hy is die jongste ruiter op vlak 4 tans.
Hy het ook vlak 2 in SWAGMA se ope-afdeling behaal en is daar ook die jongste ruiter in sy klas.
Michael het ook Gauteng Noord-kleure vir SWAGMA behaal en het daarna ook Gauteng-kleure vir beide SANESA (skole) en SWAGMA (Ope) verower.
Hoewel die ruiters amptelik verlede jaar eers kompeterend begin deelneem het, was die aanvoeling vir perdry al vanaf die jong ouderdom van een jaar by Annabella en as drie-jarige by Michael gekweek.
Die perdrylesse was hoofsaaklik om emosioneel te groei en vir die voordeel van fisiese oefening, maar mettertyd het die stokperdjie ook in ’n passie ontaard.
Hulle neem saam aan rodeo deel en die twee talentvolle ruiters se gunsteling-afdeding is Hurry Scurry wat bestaan uit vyf spronge teen tyd.
Vir twee maande het die ruiters die ‘off lead’-prestasies bereik en wil volgende jaar daarin kompeteer.
Hulle oefen ook twee keer weekliks by El-Shaddai ryskool.
“Sonder ons afrigter en haar span sou niks moontlik gewees het nie.” het Michael afgesluit.




