Streeknuus

Sundra se Plaasjapie Amateur Stoeiklub is geen Vaaljapie

Hier berei hulle elke kind voor om met die nodige dissipline, respek, liefde en geduld as volwaardige lede van die samelewing die toekoms tegemoet te kan loop.

By die Plaasjapie Stoeiklub in Sundra gaan dit nie net oor amateur-stoei nie.

Hier leer die jongelinge van uithouvermoë, respek vir gesag en hul medemense, die liefde vir gesonde oefening en leefstyl, deursettingsvermoë en streshantering, en ’n goeie gesonde selfbeeld word gekweek.

Die Plaasjapie Stoeiklub het voorheen bekend gestaan as die Delmas Stoeiklub.

Volgens me. Leonica Uys, adjunkvoorsitter en SA-afrigter, het die klub aanvanklik in die Mpumalanga-streek deelgeneem.

“Weens die geografiese gebied, was dit vir ons baie moeilik om aan kampioenskappe deel te neem. Sommige klubs, soos Komatipoort, is tot ses ure van ons af.

“Dit het geweldige finansiële druk op die ouers geplaas,” het me. Uys gesê.

Dit het verder tot gevolg gehad dat dit baie moeilik vir die klub was om die beste spanne vir kompetisiedeelname saam te stel.

Volgens me. Uys het die klub daarom in 2020 besluit om ’n aansoek om by Ekurhuleni te affilieer in te dien.

Lisa Barnard en Johan Barnard. (Foto: Verskaf)

“Na ’n lang gespook het Mpumalanga ons uiteindelik in Februarie vrygetel en kon ons by Ekurhuleni Stoeivereniging inskakel.”

Die Plaasjapie Stoeiklub spog tans met sewe stoeiers wat tydens die Ekurhuleni Kampioenskappe gekwalifiseer het om aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Stoeikampioenskap deel te neem.

Die kampioenskap vind vanaf 6 tot 9 Oktober plaas.

“Ons is baie trots op ons stoeiers en is bevoorreg om hulle in ons midde te hê,” het me. Uys verder gesê.

Die stoeiers wat gekwalifiseer het, is Kylie Bester (dogters 0/10 vrystyl), Jacqui Bosman (D0/15 vrystyl), Lisa Barnard (vroue-kadette vrystyl), Johan Barnard (S0/10 vrystyl), Jaq-dré Uys (S0/13 vrystyl), BG Uys (S0/15 vrystyl) en MC Uys (juniors vrystyl en Grieks-Romeins).

Lisa Barnard en Johan Barnard moes egter van die kampioenskap onttrek.

Oefeninge vind plaas op Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 19:30 en belangstellendes word genooi om by die klub te gaan inloer by Minniestraat in Sundra.

“Ons verwelkom elke nuwe stoeier met ope arms. By die Plaasjapie Stoeiklub berei ons kinders voor om met die nodige dissipline, respek, liefde en geduld as volwaardige lede van die samelewing die toekoms tegemoet te kan loop. “Dit is baie belangrik dat elke kind hom of haarself sal kan verdedig wanneer die situasie dit vereis.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button