Plaasaanvallers wag slagoffer met knopkieries in op plaas tussen Delmas en Leandra
Mnr. Victor kon hy daarin slaag om homself te bevry en het na buite na sy bakkie gevlug. “Een van die aanvallers het agter my aangehardloop na my bakkie toe, maar het later teruggedraai.” Mnr. Victor kon daarin slaag om, bebloed en beseer, na ’n naburige plaas te vlug waar hy om hulp aangeklop het.
Hy het oudergewoonte sy deur oopgesluit en die gang afgestap, maar dit was anders, baie anders, want hierdie keer het vier aanvallers met knopkieries hom ingewag.
Mnr. Joppie Victor van die plaas Brakfontein op die R50 tussen Delmas en Leandra, het op Maandag, 18 Oktober omstreeks 18:44 tuisgekom.
“Van om ’n hoek, het ’n vreemde man te voorskyn gekom en toe nog drie en die knopkierie-houe het onmiddellik op my gereën.
“Hulle het reguit vir my kop gemik, maar ek het gekeer en dit was toe asof hulle net geslaan het waar hulle ook al kon plek kry,” het mnr. Victor Streeknuus Dinsdag vanuit die hospitaal meegedeel.

Volgens mnr. Victor, het hy terugbaklei en die aanvallers sover moontlik probeer afweer.
In die proses het hy een van die aanvallers se masker afgeruk.
“Ek het hom nie herken nie.”
Daar het glo ook ’n hoed van een van die aanvallers op die toneel agtergebly.
Mnr. Victor het daarin geslaag om homself te bevry en het na buite na sy bakkie gevlug.
“Een van die aanvallers het agter my aangehardloop, maar het later teruggedraai.”

’n Bebloede en beseerde mnr. Victor het na ’n naburige plaas gevlug waar hy om hulp aangeklop het.
Volgens kapt. Carla Hartley, woordvoerder van die Delmas Polisie, was daar geen teken van gedwonge toegang tot die woonhuis van mnr. Victor nie, maar die aanvallers het wel deur die eetkamervenster gevlug.
Die glasstukke het glo aan die buitekant gelê en dit was daarom duidelik dat die venster as uitgang gedien het en nie as ingang tot die woning nie.
Volgens kapt. Hartley, was daar ook ’n koeëlgat deur die eetkamervenster, maar die oorsprong daarvan is nog onbekend.
Mnr. Victor het tydens die aanval verskeie ernstige oop wonde aan sy kop en gesig opgedoen.

Sy regterhand is ook ernstig beseer.
Hy is na die Pretoria-Oos Hospitaal geneem vir behandeling.
“Vier van die snye moes met steke geheg word. My lyf is seer, veral in die omgewing van my ribbes,” het mnr. Victor gesê.
Die saak word deur die Delmas Polisie ondersoek.
Teen druktyd was dit nog nie duidelik of enige iets uit die plaashuis vermis word nie.

Mnr. Victor kon self ook nie bevestig of enige iets vermis word nie, omdat hy nog nie weer ná die aanval tuis was nie.
Op ’n vraag aan mnr. Victor wat hy vermoed die motief vir die aanval te wees, was die antwoord onomwonde: “Hulle het gekom om my dood te maak, niks meer en niks minder nie.”
Volgens mnr. Victor moes die aanvallers reeds ’n paar ure in die huis gewees het.
“Hulle was in die huis toe ek daar aankom en hulle het vir my gewag.”




