Streeknuus

Delmas VLU hou miniskou, vergadering en groet ’n lid

Daar was tydens die Delmas VLU se Oktober vergadering reëlings rondom die tak se takafsluiting bespreek sowel as die tak se November-vergadering bespreek. Ander sake wat aandag geniet het was die herorganisasie van die Delmas-tak asook die miniskou. Hierdie propvol program word vir 30 November beplan.

Die lede van Delmas se Vroue Landbou Unie (VLU) was weer behoorlik uitgehonger vir ’n kuier.

Die September-vergadering moes weens die streekkongres wat by die Olifant Lodge gehou was, uitgestel word.

Die vroue het egter weer op Dinsdag, 19 Oktober, gesellig gekuier en was die oggend se program propvol interessanthede.

Tydens die pas afgelope streekkongres het die voorsitter, me. Marié Terblanché die pryse namens die tak se lede ontvang en was dit daarom gepas om die uitslae tydens hul eerste vergadering aan die vroue te oorhandig.

Me. Margaret Bezuidenhout het met 85% ’n tweede plek losgeslaan in die meriete-toekenning vir naaldwerk.

Die skakelbeampte, me. Carine Swart het ook ’n sertifikaat van waardering as takskakelbeampte verwerf.

Daar was verder tydens die vergadering reëlings rondom die tak se takafsluiting sowel as die tak se November-vergadering bespreek.

Ander sake wat aandag geniet het, was die herorganisasie van die Delmas-tak en die miniskou.

Hierdie propvol program word vir 30 November beplan.

Oktober se miniskou het ook weer nie teleurgestel nie en Delmas se lede het behoorlik uitgehaal en gewys.

“Daar was redelik baie artikels in verskeie afdelings ingeskryf, soos brei, hekel, borduurmasjien, handvlyt en borduurwerk,” het me. Swart gesê.

“Daar was verder ook gebak, lekkers en mikrogolfkuns te siene by die miniskou.”

Me. Marie Jordaan het die vroue meer vertel oor die skrywer, Jaco Jacobs, sy skryfkuns en boeke.

Daar was ook meer vertel oor die bekende ekonoom en televisie persoonlikheid, Dawie Roodt en die kunstenaar, Henry John Williams.

Omdat die vroue appeljellie vir die kompetisie moes kook, het me. Belinda Duvenhage die vroue met meer inligting rondom die kuns daarvan vertel.

Inligting het ingesluit watter soort appels daarvoor gebruik kan word, hoe om die jellie te kook, hoe om vir pektien te toets en hoe om die jellie te bottel vir die beste resultate.

Hierna was dit tyd vir die vroue om mekaar se viltboekies te bekyk en verskillende idees van borduurwerk en versiering van die boekies was bespreek.

“Daar word beplan om hierdie boekies as geskenke te gee by die konferensie van 2022,” het me. Swart verder gesê.

Tussendeur was daar heerlik gesmul aan lekkernye soos wat net die vroue van die VLU kan voorsit.

Voor daar met gebed afgesluit is, moes die tak egter ’n lid groet.

Die Delmas VLU het van me. Swart, wat vroeg in November na Lephalale verhuis, afskeid geneem.

“Ons gaan vir Carine baie mis. Sy was ’n ware staatmaker en ons kon altyd op haar reken, niks was ooit te veel gevra nie. Carine was altyd bereid om met enige iets te help.

“Sy is ’n uiters bekwame vrou en gaan beslis ’n groot leemte in ons tak laat.

“Die Delmas VLU-tak wens vir haar sterkte en seën toe vir die toekoms,” het me. Terblanché gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button