Streeknuus

Bejaarde buite Bronkhorstspruit aangeval – drie verdagtes is reeds aangekeer

Die 84-jarige vrou het erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen. Die blaasvlam was glo opsetlik na die plaas geneem met die doel om die oumens te martel.

’n Bejaarde vrou sterk tans by ’n vriendin aan nadat sy op haar plaas in die Leeufontein-omgewing aangeval en gemartel is.

Dié 84-jarige is omstreeks 23:00 op Woensdag, 3 November, op die plaas Schietpoort naby Bronkhorstspruit deur sewe gewapende mans oorval en is deur die nag tot omstreeks 04:30 die volgende oggend gemartel. Sy is onder meer met ’n blaasvlam gebrand.

Volgens die polisiewoordvoerder, konst. Catherine Phungo, het die aanvallers diefwering van die plaashuis geknip en vier van hulle het die bejaarde met ’n flitslig in haar oë wakkergemaak.

Hulle het haar uit haar bed tot by die badkamer gesleep waar hulle haar hande vasgebind en haar toe geweldadig aangerand het.

Die rowers het die vrou daarna in die badkamer toegesluit.

Die ander drie aanvallers het twee plaaswerkers agter die huis oorrompel en hulle ook vasgebind.

Een van die werknemers het later losgekom en by die buurplaas gaan hulp soek.

Twee gemeenskapslede het kort voor die polisie op die plaas opgedaag.

Konst. Phungo het gesê die bejaarde is eers na die Bronkhorstspruit Hospitaal vir mediese hulp geneem. Sy is later ook in die Pretoria-Oos Hospitaal behandel.

Die rowers het die huis leeggedra en vermoedlik na vuurwapens gesoek. Hulle het in ’n Ford Ranger-bakkie wat hulle op die plaas gesteel het, gevlug.

Die sitkamerstel, twee yskaste, ’n eetkamertafel, drie rekenaars, drie selfone, ’n televisie, ’n mikrogolfoond en ’n wasmasjien is van die gesteelde goedere wat vanoggend in Retabiseng, die nabye township, gevind is.

Konst. Phungo het vertel die Ford Bakkie is in Ekangala gevind.

Volgens mnr. Llewellynn Hemmens, AfriForum se streekhoof van gemeenskapveiligheid, is daar vanoggend op ’n pakhuis in die informele nedersetting buite Bronkhorstspruit afgekom waar verskeie gesteelde goedere gevind is.

Hy het gesê dat van die goed wat gevind is, ook verbind word met voorvalle wat op ander plase plaasgevind het.

“Die rowers kan ook met ander sake verbind word,” het mnr. Hemmens bevestig.

Die polisie se misdaadintelligensiespan, Bronkhorstspruit Polisie se speurders en honde-eenheid, en die Tshwane Distrik se trio-taakspan, het reeds drie verdagtes vasgetrek, waarvan een ’n plaaswerker is.

Die bejaarde vrou woon al meer as 30 jaar op die kleinhoewe, waarvan sy die laaste jaar alleen bly nadat haar man weens Alzheimers in ’n versorgingsoord geplaas is.

Volgens mnr. Hemmens het die vrou erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen. Hy meen die blaasvlam was glo opsetlik na die plaas geneem met die doel om die oumens te martel.

“Dit is die derde plaasaanval in die omgewing die afgelope tyd,” het mnr. Hemmens laat hoor.

Van die gesteelde goedere wat vandag teruggevind is. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button