Bronkhorstspruiter neem deel aan Arnold se Transformation Challenge
Mnr. Francois Walters (26) se omdraaipunt het begin toe hy vir die eerste keer oor ’n tydperk van ’n jaar geen operasies ondergaan het nie. “Daarna het ek heel eerste besef lewe is dalk moontlik. Nadat ek daardie kopskuif gemaak het, het my lus vir die lewe weer begin groei,” het mnr. Walters vertel. Hy
Mnr. Francois Walters (26) se omdraaipunt het begin toe hy vir die eerste keer oor ’n tydperk van ’n jaar geen operasies ondergaan het nie.
“Daarna het ek heel eerste besef lewe is dalk moontlik. Nadat ek daardie kopskuif gemaak het, het my lus vir die lewe weer begin groei,” het mnr. Walters vertel.
Hy was destyds oorgewig weens mediese redes wat ’n tol op sy gesondheid en lewenslus geëis het.
Die reis om sy liggaam te verander het ses jaar lank geduur en was ’n opdraende stryd vanaf 2016.
Hy het eers vanjaar sy doelwit om aan die Arnold Schwarzenegger Body Tranformation Challenge deel te neem, bereik.
Hy neem tans deel en die uitslae gaan 20 November op ’n gala-aand in Johannesburg bekend gemaak word.
Mnr. Walters het meer as 51 kg afgeskud en voel nou gesonders as ooit van te vore.
Sy geloof was sy dryfkrag en sy verloofde, me. Sune van den Berg, was sy motivering.

Die kombinasie van die twee steunpilare in sy lewe het mnr. Walters laat besef hy moet die lewe aanpak en dit voluit leef.
“Ek het besef ek is te jonk om moed op te gee. Ek moet meer lewe en ek het die liefde van my lewe tydens dié reis gevind.”
In dié lewensveranderde tog het hy sonder twyfel soveel van homself geleer, maar sy grootste doewit waarin hy geslaag het, is om die beste weergawe van homself te word en elke dag daarop te verbeter.
Sy droom vir die toekoms is om die mense om hom te inspireer, raad te gee en aan te moedig deur sy storie te vertel.
“Ek wil ander help om nie deur te maak wat ek moes deurmaak nie. Voor hulle op daardie punt kom, wil ek vir hulle wys dat daar kanse is om te verbeter nog voordat jy jou keerpunt bereik.”
Mnr. Walters het vertel dat die perdryterapie vir hom en sy verloofde ’n bitter groot motivering was soveel so dat die paartjie twee jaar gelede ’n ryskool geopen het genaamd Royal Dalton waar daar ook in die terapie gespesialiseer word.

“Dit het my geleer om ’n duidelike voorbeeld in jou kop te hê oor hoe jou jouself sal wil sien en dan om alles moontlik te doen om daardie weergawe van jouself te bereik.”
Mnr. Walters se raad is eerstens aanvaardig en tweedens om doelwitte te stel sonder om af te dwaal deur te kyk wat ander om jou doen.
“Aanvaar wie en aanvaar wat jy is. Maak so vinnig as moontlik vrede daarmee en dan sal jy daarmee kan saamleef en daarop bou.”
Die reis het ’n groter impak op hom gemaak as wat woorde kan beskryf.
“Ek het nou die geleentheid om die wêreld met ander oë te sien en om die lewe aan te pak met kennis waaroor min mense beskik.”



