Streeknuus

Paaie verander in riviere op Delmas, maar mielies en sojabone klap hande

Hoewel die reënseisoen op 'n stadige noot afgeskop het met 37mm gedurende September en 83mm gedurende Oktober, het die reënvalsyfers soos op 29 November, 'n totaal van 200mm in Delmas getoon. (Reënvalsyfers soos verkry vanaf die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se webblad in Delmas-Wes gemeet).

Die son in Delmas het vir byna ‘n volle week agter dik reënwolke en dreigende donderweer weggekruip.

Temperature was abnormaal laag vir dié tyd van die jaar en plek-plek moes daar in die winterkas gedelf word vir ‘n paar dik wolsokkies en ‘n warm baadjie.

Die koue was vergesel van donderweer en baie sterk winde, maar het as beloning baie goeie reënval in die gebied tot gevolg gehad.

Hoewel die reënseisoen op ‘n stadige noot afgeskop het met 37mm gedurende September en 83mm gedurende Oktober, het die reënvalsyfers soos op 29 November, ‘n totaal van 200mm in Delmas getoon. (Reënvalsyfers soos verkry vanaf die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se webblad in Delmas-Wes gemeet).

Terwyl hierdie reën deur boere vanuit die omgewing verwelkom is, het dit ook probleme veroorsaak.

“Ons is baie dankbaar vir die goeie reën, maar die mielies en veral die sojabone het nou fotosintese nodig vir maksimum groei,” het ‘n boer Streeknuus meegedeel. Ander boere het laat weet dat hulle sukkel om klaar te plant.

“Ons kan nie naby die lande kom nie en het werklik nou weer ‘n week of twee se somer hier op die plaas nodig.”

Sommige paaie in en om Delmas het behoorlik in riviere verander en toegang van en na plase was vir sommige plaasbewoners vir tot twee dae byna onmoontlik.

Vir die dorpsbewoners in die Delmas-omgewing het die slegte toestand van paaie ook weer gesorg vir baie frustrasies.

Slaggate was gevul met water en het in reuse damme verander.

Die reeds brose padoppervlak in ander gebiede het splinternuwe slaggate bygekry en plek-plek was stormwaterdreinering heeltemal ontoereikend.

Ten minste drie baie ernstige ongelukke het ook gedurende die naweek van 25 tot 28 November op die R42 en R555 plaasgevind.

Haelstorms het groot skade in Mpumalanga en ander dele van die land veroorsaak.

Delmas en omgewing het dit grootliks vrygespring en behalwe vir ‘n paar strate wat in riviere verander het, bome wat weens die sterk wind ontwortel het en weerligskade wat aan verskeie wonings en infrastruktuur aangebring was, het die omgewing ernstige skade vrygespring.

Teen druktyd het die son vlugtig sy kop gewys en die warm baadjie kon aan die kapstok gehang word, maar meer reën was vir die eerste week van Desember voorspel.

“Ons as boere het egter geleer om saam met die natuur te boer, want daarteen kan jy as boer nie gaan nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button