Delmas se AfriForum Valke Buurtwag dra die veiligheid van Malita se inwoners op die hart
Die woord het uitgegaan, die gemeenskap en Valke Buurtwaglede se harte en beursies het oopgegaan en sommer baie vinnig was daar genoeg fondse ingesamel.
Staatmakers vanuit die gemeenskap, hande vat en harde werk het verseker dat die senior inwoners van Malita Aftreeoord in Delmas nou snags rustiger en veiliger kan slaap.
Daar was verskeie aanvalle op die senior burgers van Malita, sommige helder oordag, sommige snags.
Inwoners was boonop van hul besittings beroof, waarvan sommige se selfone deur hul slaapkamervensters vanaf bedkassies is.
Gasbottels, tuingereedskap en meubels was ook hoog op die kriminele se aankopielyste.
Nadat daar deur goedgunstige skenkers en borge vanuit die gemeenskap meer veiligheidskameras opgerig is, het die Valke Buurtwag besluit dat die diewe en aanvallers se toegang tot Malita gestuit moes word.
Valke-lede en bestuur het besluit omgeld vir die oprigting van ’n elektriese heining in te samel.
Aan die stuur van geldinsamelingsprojek, was staatmaker, me. Helena Biermann.
Die woord het uitgegaan, die gemeenskap en Valke Buurtwaglede se harte en beursies het oopgegaan en sommer baie vinnig was daar genoeg geld ingesamel om die projek van stapel te stuur.
Na maande se beplanning, voorbereiding en harde werk, was die elektriese heining gereed om op te gaan. Die aanhoudende reën het die installasiespan teruggehou, maar op Sondag, 5 Desember isdie projek gefinaliseer met opsit van ’n reuse alarm op die dak.
“Hierdie alarm is bedoel om almal in Delmas wakker te maak sou kriminele dit oorweeg om die perseel te betree. Met die Delmas Polisie slegs ’n paar meter van Malita, gaan dit selfs vir hulle moontlik wees om dit te hoor en te reageer,” het mnr. Desmond Biermann laat hoor.
“Dit was ’n reuse projek, 730m elektriese heining in totaal, maar vir die gemoedsrus van ons bejaardes, is dit met omgee en geen moeite gedoen,” het mnr. Carel Botha, voorsitter van die Valke gesê.
Mnr. Botha het elkeen wat skenkings gemaak het, gehelp het met die insameling van geld, die beplanning, die voorbereiding en die harde werk, bedank.
“Ons kan nie elke individu of besigheid by name noem nie, maar ons opregte dank aan elkeen. Dit is verblydend om te weet dat ’n gemeenskap so kan saamstaan om ons eie mense te beskerm teen die onnodige en bose dade van kriminele wat selfs op ons bejaardes toeslaan.”
Die opsigter van Malita Aftreeoord, mnr. Rassie Erasmus het ook namens die inwoners, sy dank uitgespreek teenoor die Valke Buurtwag.
“Baie dankie aan elkeen wat bygedra het om Malita vir ons inwoners veiliger te maak, ons waardeer dit opreg. Dit gee vir elkeen van ons meer gemoedsrus en ons kan beslis nou snags rustiger slaap.”





