AfriForum bevestig dat die Delmas-omgewing se water veilig is vir menslike gebruik
Die Bloudruppeluitslae het daarop gedui daarop dat al die dorpe van Mpumalanga se drinkwater wat getoets is, skoon is.
AfriForum het van vanjaar verskeie dorpe in Mpumalanga se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.
“Ons kon vasstel dat al die dorpe in die provinsie se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” het mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga gesê.
Die Bloudruppeluitslae het daarop gedui dat al die dorpe van Mpumalanga se drinkwater wat getoets is, skoon is.
Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 12 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Van dié 12 aanlegte is daar een aanleg wat glad nie funksioneer nie en geen rioolinvloei ontvang nie.
Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie
“Ons sal die nie-nakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” het Bekker verder gesê.
“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” het Bekker afgesluit.
AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak en verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal. AfriForum sal, sodra die
Departement hulle verslag bekend maak, dit noukeurig deurwerk en moniteer.
“As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons nie ophou om die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets nie. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm,” het AfriForum in ’n mediaverklaring, soos uitgereik op 7 Desember, gesê.
AfriForum versoek inwoners van Mpumalanga om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer. SMS “Skoon water” na 45340 (R1) en steun hierdie aksie.



