Rayton-boorling nou gesoute lid van Franse Vreemde Legioen
In Maart van 2015, op 19-jarige ouderdom het sy ouers vir Jozua by die Oliver Tambo Lughawe met net ’n rugsak op sy rug afgelaai. Jozua het vier dae later by die Franse Legioen se inname basis se hekke ingestap.
In Rayton het hy boom geklim, kettie geskiet en kattekwaad aangevang, maar sy visie was van jongs af duidelik, hy wou ’n soldaat word.
Sers. Jozua Naudé (26) is die jongste van vier kinders, asook die enigste seun van mnr. Eduan en me. Jeanette Naudé.
Hy is ’n laatlam en het onder die wakende en beskermende oog van sy drie ouer susters grootgeword.
Jozua het in Rayton opgegroei, was in Laerskool Rayton en het sy hoërskool-loopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria in 2013 met vier onderskeidings voltooi.
Hierná, in 2014, het hy vir ’n jaar lank verbete in die strate van Rayton geoefen.

Volgens sy pa, het hy hande-viervoet bande gesleep en ’n groot trekkerband vir blokke om en om gerol.
“Met dit wat tot sy beskikking was, het hy met al wat ’n kragoefening in wind en weer, koue en hitte volhard. Sy einddoel: om by die Franse Legioen aan te sluit,” het mnr. Naudé (snr.) oor sy seun gesê.
Dié kragoefeninge sou hom sterk maak en voorberei vir dit wat sou wag tydens sy keuring vir die Franse Vreemde Legioen asook die uiterste temperature van Europa.
Om homself verder voor te berei, het Jozua Franse taallesse geneem en kon hy teen die tyd wat hy vir keuring gegaan het, homself redelik goed in die Frans uitdruk.
“Vandag kan Jozua vlot Frans praat, lees en skryf,” het pa Eduan laat hoor.
Dié Suid-Afrikaner het hom nooit laat onderkry deur ‘kenners’ se stellings dat dit byna onmoontlik sou wees om by die Franse Legioen in te kom nie omdat hul keuring bloot te taai sou wees.
Sy ouers het in Maart 2015 die 19-jarige Jozua by die Oliver Tambo Lughawe met net ’n rugsak op sy rug afgelaai.
Hy het vier dae later by die Franse Legioen se innamebasis se hekke ingestap.
“Met sy aankoms was sy paspoort, sy bestuurderslisensie, bankkaart, selfoon en alles wat hom met enige iemand kon verbind, van hom weggeneem,” het mnr. Naudé (snr.) verder gesê.
“Jozua was op sy eie en kon, indien hy gekeur word, eers na drie maande weer met die buitewêreld kontak maak.”
Dié jongman se passie en toewyding het vrugte afgewerp en hy is as lid van die Franse Vreemde Legioen aanvaar.
Dit is nou sewe jaar later en Jozua is trots ’n sersant in die Legioen.
In ’n onlangse voorval, was hy deel van ’n groep soldate wat oor ’n tydperk drie terroriste in Mali in Wes-Afrika aangekeer het.

Dit het gevolg nadat ’n Islamitiese oproer in 2012 daar uitgebreek het.
Vele Franse soldate het ook hul lewens verloor tydens operasies teen dié insypelaars.
“Hierdie mag deur sommige as ’n oordadige spoggery gesien word, maar dit is alles waar, en ook goed om te weet dat ’n boerseun van Rayton sy merk so in ’n taai oorsese weermag gemaak het – so, ons gesin is met reg baie trots op hom. “Jozua het soveel talente en ons is geseënd om hom te kon sien opgroei en sy prestasies te monitor.
“Hy kan boonop baie lekker kos ook maak,” het ma Jeanette ten laaste laat hoor.
Vir Jozua self gaan dit nie oor die blootstelling in die media of sy prestasies nie.
“Hy wil enige jong seun nooi en aanmoedig om hom te kontak as hulle sou belangstel in ’n beroep as soldaat.
“Met selfdissipline, volharding en daardie vasbyt waaroor ’n Suid-Afrikaanse boerseun beskik, is enige iets moontlik.”
Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor Jozua Naudé se pad in die Franse Vreemde Legioen, sy uitnodiging om vanjaar vir die Franse Weermag se sewesspan rugby te speel, sy
liefde vir filosofie en sy huidige opleiding om as sportinstrukteur in die Legioen diens te doen.



